Jan Rhaap, se splinternuwe album, Elmboog Na Bo, word binnekort uitgereik en om dit te vier het hy onlangs die Elmboog Na Bo-uitdaging op sosiale media geloots. Tydens hierdie uitdaging word jy uitgedaag om, op video, ’n shooter van jou keuse in die vou van jou arm vas te knyp en te drink en dan jou vriende uit te daag om dieselfde te doen.

“Mense daag mekaar alreeds uit om aan die uitdaging deel te neem.  Gaan loer gerus op my sosialemediablad om na al die lawwigheid te kyk! Enigiemand kan deelneem en dit kan enige drankie of koeldrank in die skootglasie wees wat jy verkies,” sê Jan met ’n stoute vonkel in die oog.

Om dit nog meer spesiaal te maak het hy ‘n musiekvideo van dié titelsnit en komiese liedjie uit sy eie pen laat vervaardig wat pas vrygestel is.  Die liedjie laat jou lag en positief voel en die video is deur Vonk Musiek vervaardig en in die Oosrand verfilm.

“Dit gaan oor my wat met vriende gesels oor een van ons ander vriende wat nou ook ewe skielik jenewer (gin) en vrugte drink as brandewyn en Coke soos die res van ons, en ek is bang dat ons hom gaan ‘verloor’ aan die gin. In die video braai twee van ons saam met hom…” vertel hy. “Ons wou nie die video te ernstig opneem nie en mense laat lag, want dit is iets wat Suid-Afrika nou baie nodig het.”

 Deel gerus jou #ElmboogNaBo videos met Jan Rhaap op sosialemedia!

Elmboog Na Bo is Jan Rhaap se vierde album en word amptelik op 19 Februarie 2021 eksklusief op kykNET, Die Groot Ontbyt, Kanaal 144 bekendgestel. Dit sal dan ook op alle digitale platforms beskikbaar wees.

Leave a Reply

error: Content is protected !!