Dit gebeur nie dikwels dat die vierde fliek in ’n reeks uitstaan as een van die beste aksieflieks wat nóg gemaak is nie. Maar volgens kritici en die loket, doen die nuutste John Wick-rolprent presies dit.

John Wick: Chapter 4 is die jongste aflewering in een van die top aksierolprentreekse van die 21ste eeu, met elke nuwe hoofstuk van die reeks wat groter en beter as die vorige blyk te wees. Die rolprent, wat plaaslik op 24 Maart geopen het en tans die nommer-een-fliek in die land is, het op ’n indrukwekkende noot afgeskop en meer as R7-miljoen gedurende die openingsnaweek verdien.

Dit volg op 2019 se John Wick: Chapter Three – Parabellum, waar die hoofkarakter, vertolk deur Keanu Reeves, kragte saamspan met Laurence Fishburne om ’n groep misdaadbase uit te oorlê wat bekend staan as die  High Table.

Internasionaal is dié fliek goed ontvang, met baie resensente wat dit beskryf as die aksiefliek van die jaar.

Volgens Nick Schager van The Daily Beast “verslaan die prent, nes sy voorgangers, moderne aksierolprent-kompetisie op ’n opwindende en wreedaardige manier”. Aaron Neuwirth van We Live Entertainment stem saam: “Die kombinasie van aksiebelaaide tonele, die kreatiwiteit van die draaiboek en die stelontwerp, asook Reeves se uitstaande toneelspel, maak die eindproduk ’n wonder om te aanskou.” 

Maar dit gaan oor meer as net aksie. “Die regisseur, Chad Stahelski, die draaiboekskrywers, Shay Hatten, en Michael Finch ondersoek temas oor die gevolge van die verloop van tyd, wat versterk word deur bykomende sentimente oor vergifnis, die noodlot, getrouheid en vriendskap,” verduidelik Fresh Fiction se Courtney Howard..

In John Wick: Chapter 4  is Reeves terug in sy rol as berugte huurmoordenaar wat ’n manier moet vind om die High Table te verslaan. Maar voordat Wick sy vryheid kan kry, moet hy eers ’n nuwe krimineel uitoorlê wat kragtige alliansies regoor die wêreld het, en van ou vriende vyande maak.

Fishburne is weer in die prent te sien, asook Donnie Yen in die rol van Caine, ’n voormalige slypmoordenaar en ’n vriend van Wick. Ian McShane is ook terug as Winston, eienaar van die Continental Hotel, en Lance Reddick as die portier, Charon.

Bill Skarsgård sluit ook aan as een van die lede van die High Table, en verleen volgens Howard “diepte en dimensie aan die arrogante, selfbehepte en grillerige skelm wat hy vertolk”. Nog ’n nuweling wat beslis ’n gunsteling onder kykers gaan wees, is Shamier Anderson, wie se karakter bekendstaan as die Tracker, en sy hond.

Aksiefliekliefhebbers gaan beslis nie teleurgesteld wees nie en alhoewel dit onmoontlik klink, bied John Wick: Chapter 3 nóg meer aksiebelaaide skiet- en vegtonele as tevore om kykers op die punte van hul stoele te hou. Fred Topel van United Press International meen die fliek “bied innoverende aksie – nie net volgens die standaarde van die John Wick-reeks nie – maar vir flieks in die algemeen”.

Hierdie is ’n moet-sien-rolprent vir aanhangers van hierdie gewilde reeks, wat nie net ’n vars aanslag bied nie, maar oor die eerste drie flieks saamvat in ’n opwindende hoogtepunt.

John Wick: Chapter 4  word plaaslik versprei deur Filmfinity Pty (Ltd.) en is tans in rolprentteaters te sien.

Leave a Reply

error: Content is protected !!