Johan Anker en Sasha-Lee Davids stel bekend musiekvideo vir hul treffer, Ek Belowe. Die liefdesballade, met ’n Christelike aanslag en meesleurende wysie, wat albei kunstenaars se stemme soos ’n handskoen pas en ’n blywende indruk laat lank nadat die laaste noot stil geraak het.

Ek was onlangs by ’n troue wat my opnuut herinner het aan die belofte wat paartjies aan mekaar maak. Die dominee het uit 1 Korintiërs 13 gepreek oor ware liefde tussen huweliksmaats en dit het my aan my ouers laat dink. Hulle sou vanjaar veertig jaar getroud gewees het en ek wou dit aan hulle opdra. Ongelukkig moes ons egter my pa aan ’n Covid-verwante hartaanval afstaan voordat ek dit kon doen,” verduidelik Johan Anker oor die betekenis agter hierdie besonderse lied, wat hy geskryf het, terwyl Sasha-Lee Davids, met wie hy die lied opgeneem het, ook kreatiewe insette gelewer het. Sean Butler het die lied vervaardig. “Ek het besluit om tog die liedjie vry te stel om my ouers se huwelik te eer, al is my pa nie meer hier nie. Gelukkig kon hy dit nog hoor voor sy dood en was hy mal daaroor.

Volgens Sasha-Lee, wat in 2009 die medewenner was van Idols, gaan hierdie liedjie ’n gunsteling wees onder diegene wat tans troues beplan. “Dit is vir my ’n groot voorreg dat Johan my gevra het om saam met hom te sing en ek dink die publiek gaan mal wees daaroor. Dit het van die begin af met my hart gepraat en omdat ek ook ’n Christen is, kon ek dié pragtige lirieke uit volle bors saam sing,” sê sy. “Die melodie en produksie is so mooi gedoen deur Sean Butler dat jy nie anders kan as om verlief te voel nie as jy dit hoor nie.”

Beide musikante het dit baie geniet om saam aan die liedjie te werk en voel geseënd om te kan doen waarvoor hulle lief is. “Ek en Sasha-Lee wou graag goeie storievertellers wees en ek glo ons het hierdie liefdesverhaal mooi geïnterpreteer,” sê hy.

Ek Belowe is Johan se derde enkelsnitvrystelling (buiten vir sy album) en volg in die voetspore van treffers soos Hoop en Bid en Soldaat wat nie net goed ontvang is op die radio nie, maar waarvan die musiekvideo’s ook deur duisende mense op YouTube gekyk is.

Johan en Sasha-Lee verkies albei om liedjies te sing waarmee hulle kan vereenselwig en hoop daarom dat Ek Belowe vir luisteraars dieselfde sal doen.

Dit is ’n besonderse lied wat die potensiaal het om nog vir lank ’n treffer te wees onder musiekliefhebbers regoor die land.

Kyk die musiekvideo hier:

Ek Belowe is nou aanlyn beskikbaar.

Johan Anker Sosiale Media: Facebook | Instagram

Sasha-Lee Davids Sosiale Media: Facebook | Instagram

Leave a Reply

error: Content is protected !!