Met ’n debuut-album wat sedert September 2021 meer as 200 000 keer aanlyn gestroom is, het die talentvolle sanger en liedjieskrywer, Gerduan Kemp, beslis nie meer bekendstelling nodig in Afrikaanse musiekkringe nie.

Nou is dié Pretorianer terug in die kollig met ’n aangrypende duet wat hy saam met die Die Kontrak-deelnemer, Tasha, opgeneem het.

Al Die Woorde is die vierde oorspronklike enkelsnit vanaf sy debuut-album, Sesde Sintuig, en is ’n Afrikaanse popliedjie wat gaan oor die beloftes wat jy maak wanneer jy trou.

“Ek het die liedjie saam met Hugo Ludik en Nick Jordaan geskryf en ons het die tema gekies omdat beloftes so ’n belangrike rol speel in ’n verhouding, al is dit iets waaroor ’n mens nie baie praat nie,” verduidelik hy. “Die inspirasie het my eers regtig getref toe ek besef hoeveel krag daar agter beloftes lê. Ons het spesifiek op troubeloftes gefokus en hoe ’n mens daaraan moet vashou wanneer jou huwelik deur ’n moeilike tyd gaan.”

Volgens Gerduan, was dit van die begin af sy plan om ’n duet met ’n unieke klank op sy eerste album in te sluit. Hy is al lankal ’n bewonderaar van Tasha se stem en musiek en het dadelik geweet dat hulle stemme perfek sou saamwerk om lewe te gee aan hierdie besonderse liedjie. Nadat hy haar op Facebook gekontak het, het sy ingestem om saam met hom te werk en die res is, soos hulle sê, geskiedenis.

“Ek het iemand gesoek met ’n mooi stem, wat myne sou komplementeer en ons stemme het perfek gepas,” sê hy. “Tasha is ’n ongelooflike musikant en het my uit die staanspoor baie beïndruk. Ons het ook baie pret saam gehad en ek is bly dat ons op die ou einde so lekker kon saamwerk.”

’n Musiekvideo van dié duet is ook nou op die kassie en aanlyn te sien. Dit is in die Kaap (Paarl en Koggelbaai) deur Leon Barnardt verfilm in en deur Gerduan self aanmekaar gesit. “Wat die video anders maak, is dat dit nie in formele musiekvideo-styl beplan is nie. Ons wou net pret hê en dit op kamera vasvang. Die bekende TikTok-ster, Mel Die Storie Verteller, was ook daar om ’n paar insette te lewer en ons het sommer uit ons kattebakke klere gekies vir elke toneel,” deel die musikant.

Tasha beaam dat die hele proses baie pret was en dat sy dit vreeslik geniet het om saam met Gerduan te werk. “Dit was baie pret en alles het baie natuurlike gebeur en ons het baie gelag. Buiten vir die video-opname, was dit vir my die lekkerste om die finale weergawe van die liedjie vir die eerste keer te hoor,” sê sy.

Al Die Woorde volg in die voetspore van Jou Tipe Jaloers wat baie goed ontvang is en steeds oor die radio gehoor kan word. Langpad Na Môre en Sesde Sintuig was ook baie gewild toe dit vrygestel is en laasgenoemde se musiekvideo is ook reeds deur meer as 27 000 mense op YouTube gekyk.

Gerduan, wat sy eie foto- en videografiebesigheid – GK Kreativ Productions – bestuur wanneer hy nie op die verhoog is nie, sing al vandat hy klein is en het in graad twee begin kitaarlesse neem. Hy het egter eers in sy finale jaar op universiteit, waar hy besig was om Kommunikasiemedia en Joernalistiek te studeer, besluit om ’n voltydse loopbaan van musiek te maak. Sedertdien het hy al die verhoog met verskeie groot name gedeel en by talle feeste en funksies opgetree.

Tans is hy besig om aan nuwe musiek te werk en beplan om voor die einde van die jaar nuwe musiek uit te bring en die land plat te toer met sy musiek.

Tasha is veral bekend vir haar deelname aan die realiteitsprogram, Die Kontrak, waarin sy sesde geëindig het. Sedertdien het sy al as gas op verskeie televisieprogramme verskyn en deelgeneem aan talle groot Afrikaanse musiekfeeste, waaronder Afrikaans is Groot.

Dié drie-en-twintigjarige Pretorianer is in Middelburg gebore en was nog altyd passievol oor musiek. Tans is sy besig met grade in Psigologie en Engelse Letterkunde en beplan sy om nog baie musiek te maak in die toekoms.

Al Die Woorde spog met ’n verfrissende moderne aanslag en is strelend op die oor. Dit is beskikbaar op sy album en kan hier afgelaai word: https://GerduanKemp.lnk.to/SesdeSintuigMB

Leave a Reply

error: Content is protected !!