Met twee suksesvolle duet vrystellings in 2020 – saam met Henri Alant en Riaan Grobler, staan Jennifer Zamudio slaggereed met ‘n splinternuwe solo enkelsnit.

Die liedjieskrywer Tertius BC Pretorius wat verantwoordelik was vir haar Nommer 1 treffer, Altyd Myne wat ingesluit is op Jennifer se album Goud Is My Woorde het weereens dit reggekry om met ‘n allemintige skepping, Dalk vorendag te kom.

Die regte woorde ontbreek om die liedjie Dalk ten volle te beskryf. Maar die liedjie raak diep aan jou binneste. Dit roer jou met swaar emosie en terselfdertyd ‘n tikkie opgewondenheid. Hierdie lied dra ‘n belofte van sukses met hom saam en gaan ongetwyfeld ‘n duidelike merk laat.

Nadat Jennifer op 18 April vir 12 ure aaneen om haar huis gestap het, ter ondersteuning aan alle mediese en ander personeel in die voorste linies van die pandemie, is sy beloon met ‘n gratis opname van haar nuwe enkelsnit. Die vervaardiger Christie Schutte van Startrax Studios het weereens nie teleurgestel nie en het ‘n puik produksie gelewer en met Jennifer se unieke stem, het hierdie lied behoorlik tot sy volle reg gekom.

Jennifer het in Oktober 2019 ‘n Musiekvideo gewen met komplimente van Dappermedia. Die kompetisie prys het verseker dat Dalk ‘n musiekvideo gekry het.

Jennifer is gebore in Gansbaai, Suid-Afrika en het grootgeword aan die Weskus dorpie Laaiplek/Velddrif.  Jennifer is Afrikaanssprekend en haar unieke van “Zamudio” is van Spaanse afkoms en word foneties uitgespreek as “Za-moe-die-hou”.  Sy het in 1989 gematrikuleer aan die Hoërskool Swartland te Malmesbury.  Hierdie gewilde sangeres is die afgelope 28 jaar woonagtig in Pretoria en sing reeds die afgelope 20 jaar professioneel.  Sy het haar sangloopbaan begin by Anneli van Rooyen se sangskool, Promusik in Pretoria.  Jennifer het aan die begin van haar loopbaan bekend gestaan as “Die Singende Pers Sensasie”.  Haar pers haarkleur het haar beslis laat uitstaan en word nog lank onthou.

Jennifer se talent is raakgesien in die jaar 2000 tydens die KKNK op Oudtshoorn deur een van die beste musiek promotors in die land, Lydia Winchester, en het gelei tot Jennifer se eerste Platekontrak.

Dalk is beskikbaar op alle digitale platforms.

Sosiale Media: Facebook | Instagram | Twitter | Linkedin

Leave a Reply

error: Content is protected !!