Jan Blohm & Ryno Velvet - Tussen Die Lyne

Wanneer twee uiters begaafde musikante en liedjieskrywers kragte saamspan om ’n nuwe liedjie én musiekprojek van stapel te stuur, kan jy maar weet dat die eindresultaat ’n reusesukses gaan wees… en nog soveel te meer as dit Jan Blohm en Ryno Velvet is!

Tussen Die Lyne, ’n eerste vir Velvetblohm en deel van hulle opkomende album, is ’n besonderse snit wat jou aandag hou totdat die laaste noot wegsterf.

Dié ligte rockballade, ’n gesamentlike poging deur Blohm en Velvet wat deur Tertius Human vervaardig is, gaan oor die laaste sentiment wat gedeel word tussen twee geliefdes, maar nie altyd noodwendig oorgedra word nie.

“Ons het gevoel dat elke warmbloedige persoon met die ervaring wat deur dié afskeidsballade getoonset word sal kan vereenselwig. Dit gaan daaroor om te erken dat ons almal soms kwesbaar en weerloos is. In hierdie geval wil ons protagonis subjektief bly (of so voorkom) deur net die beste aan sy beminde toe te wens,” verduidelik Ryno. Tussen Die Lyne was die vertrekpunt vir Velvetblohm. Wat oorspronklik net ’n enkele optrede sou wees, het ontaard in ’n projek met baie vertakkings en nou is daar ook ’n album op pad.”

Alhoewel Blohm en Velvet reeds in 2006 en 2009 saam getoer het, het die idee vir ’n amptelike Velvetblohm-produksie eers aan die einde van 2021 posgevat toe hulle weer besluit het om saam op te tree. Wat begin het as ’n manier om hulle grootste treffers op ’n besonderse manier met bewonderaars te deel, het saam met Kobie Koen van Vonk Musiek ontwikkel tot ’n geleentheid om nuwe materiaal op te neem en vry te stel.

Albei kunstenaars is baie opgewonde oor die geleentheid om hierdie opwindende reis saam aan te pak. “Ryno is een van my gunsteling-sangers in Suid-Afrika. Ek geniet dit om saam met hom te werk en bewonder die kalmte waarmee hy projekte benader,” sê Jan.

Ryno voeg by: “Dit is ’n ongelooflike ervaring om saam met Jan te kan skryf en opneem. Hy het die vaardigheid om ’n projek te bestuur sodat almal welkom en gemaklik voel en om hom te sien werk is werklik iets om te aanskou.”

Die video van hierdie enkelsnit is verfilm by Urban Brew Studios en Wian van der Walt het die regie behartig. “Ek het dit ongelooflik baie geniet om saam met hierdie musiek legendes te werk,” vertel van der Walt.

Die twee dansers in die video is Sanchia Lamprecht en Michael Clarke.

Tussen Die Lyne is nou beskikaar op alle digitale platforms.

Leave a Reply

error: Content is protected !!