Die woord “huis” beteken verskillende dinge vir verskillende mense. Vir sommiges is dit bloot die plek waar hulle woon, maar vir ander het dit ’n dieper betekenis en verteenwoordig dit ’n plek waar hulle tuis voel en aanvaar word vir wie en wat hulle is.

Ongeag van waar jy vandaan kom of waarheen jy op pad is, het jy jou eie idee van wat jou huis is en dit is wat Frikkie van Biljon ondersoek in sy nuutste enkelsnit. Huis, wat die sanger saam met Paul Venter en Jolanda Becker geskep het, vra die luisteraar waar hy of sy tuis voel.

Hierdie snit, wat deur Jattie de Beer van Artistry Productions vervaardig is, is geïnspireer deur Paul wat besluit het om die land te verlaat. “Ek en Paul is al vriende van universiteit af. Toe hy en sy vrou in 2018 besluit het om Nieu-Seeland toe te emigreer, het ek besluit om ’n laaste keer vir hom in die Kaap te gaan kuier,” vertel Frikkie. “Ons wou vir oulaas ’n liedjie saam skryf en omdat hy beplan het om die land te verlaat, het die vraag van waar jou huis is opgekom. Uiteindelik het ons tot die gevolgtrekking gekom dat jou huis nie ’n plek is nie, maar ’n persoon of mense.”

Frikkie glo dat Huis sal aanklank vind by luisteraars, omdat die betekenisvolle lirieke elke persoon se soeke na waar hulle hoort weergee, en die strelende melodie simbolies is van hierdie lewensreis. “Vir my, onderstreep die liedjie wat regtig belangrik is in die lewe – my familie,” sê hy.

’n Musiekvideo van hierdie hoendervleismooi snit, word op 2 September 2022 vrygestel.

Alhoewel Frikkie nog relatief nuut is in die musiekbedryf, is hy al sy hele lewe lank met musiek doenig. Hy is in Klerksdorp gebore en het op vyf sy eerste solo-optrede gedoen. In die laerskool het hy ’n talentkompetisie gewen, maar kon nie gebruik maak van die prys (’n platekontrak) nie omdat sy gesin moes verhuis. Hy het egter aanhou sing en vir kunstenaars soos Jannie du Toit, Christa Steyn, Rina Hugo en Steve Hofmeyr geopen toe hy nog op skool was. Op universiteit het hy sy passie voortgesit en gehelp met die regie, skryf en beplanning verskeie konserte en musiekproduksies.

“Musiek is deel van wie ek is. Dit was nog altyd my manier om te ontsnap en my emosies weer te gee,” verduidelik hy. “Alhoewel ek van jongs af sing, het ek eers op universiteit my ware self ontdek. So baie ongelooflike mense en geleenthede het al oor my pad gekom, wat my in staat gestel het om my talent ten volle te benut.” 

Nadat hy sy studies voltooi het, het hy vir ’n rukkie lank sy musiekdroom op ys gesit. Dit het egter weer in 2017 vlam gevat en sedertdien het hy al vyf enkelsnitte – Altyd By My, Elke Tree, Hofnar, Elke Stukkie Kaap, In Die Oomblik – asook drie Kersfeesliedjies uitgereik. In 2018 het hy ook sy eerste kortspeelplaat, Dis Wie Ek Is, vrygestel.

Volgens Frikkie, het die afgelope vyf jaar in die musiekbedryf hom geleer hoe belangrik waardering is. “Elke kunstenaar sit sy hart en siel in die produk wat hy of sy op die tafel sit en dit is iets wat nie altyd deur die publiek raakgesien word nie. Ek voel dat ’n mens ten minste waardering moet gee vir die moeite en harde werk wat kunstenaars insit, al hou jy nie noodwendig van die musiek nie.”

Buiten vir musiek, geniet hierdie pa van vier en voltydse rekenaarprogrammeerder ook die eenvoudiger dinge in die lewe soos om brood te bak en ’n groentetuin te hê. Hy is ook konstant opsoek na nuwe geleenthede om musiek te maak en beplan om heelwat lewendige optredes te doen vir die res van die jaar. “My gesin kom altyd eerste, maar gelukkig is my kinders nou op ’n ouderdom wat my in staat stel om op my musiek en optredes te fokus,” sê hy.

Huis is nou beskikbaar op alle digitale platforms. Kry dit hier https://FrikkieVanBiljon.lnk.to/Huis

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!