Henrico Coetzer ReputasieHenrico Coetzer Reputasie

Henrico Coetzer, met sy besonderse stem, was tot baie onlangs nog op almal se lippe as een van die top 8-finaliste in die tweede seisoen van die kykNET-talentkompetisie, Maak My Famous… Baie aanghangers was erg ontstoke toe hy die program verlaat het, maar hulle kan nou gretig nader skuif, want Henrico het nie op hom laat wag nie, dit is nóú sy tyd en hy gryp die geleentheid aan en behoud die kollig met ’n splinternuwe enkelsnit, Hoor My Woorde, wat pas bekendgestel is.

Die sewe-en-twintigjarige sanger van Pretoria se unieke fluweelstem is die perfekte pasmaat vir hierdie opgewekte Afrikaanse snit wat spesiaal vir hom geskryf is deur een van Suid-Afrika se beste en bekendste liedjieskrywers, Vaughan Gardiner.

Hoor My Woorde is ’n pragtige popverwerking, met ’n ritmiese aanslag, waarmee die sanger graag vir die land wil wys wie hy is en dat hy vuur en vlam is oor die toekoms.

Die snit se meesleurende wysie is nie net strelend op die oor nie, maar is ook een van daardie liedjies wat in jou kop bly vassteek en jou uitnooi om saam te sing.

“Dit is ’n lekkerluister Afrikaanse liedjie met ’n diep storie. Dit gaan oor hoe dit nóú my tyd is. Al was daar teleurstelling, veral met my wat uitgeval het uit ‘Maak My Famous’, gaan dit my nie onderkry nie. Ek is reg vir die bedryf, gaan my alles gee en die beste ek wees wat ek kan. Dit is ’n lied van hoop,” verduidelik hy oor die betekenis agter die liedjie. “Ek het vir Vaughan presies gesê wat my doel met die liedjie is. Dis nou die tyd om te wys wie ek is, met ’n liedjie wat my ferm in die kollig kan hou en hy het presies dit geskryf!”

Henrico Coetzer
Henrico Coetzer. Foto: Verskaf

Hoor My Woorde is sy derde enkelsnit en volg in die suksesvolle voetspore van sy vorige treffer, Soos Reën, wat bo-aan verskeie radiostasies se treffersparades gepronk het. Dit is ook sy eerste nuwe vrystelling na die uitreiking van sy tweede album, Dis wie ek is…, in 2015.

Henrico, wat al van skooldae af sing, klavierspeel en liedjieskryf, het altyd geweet dat hy eendag ’n musikant wou word en het gereeld vertonings aanmekaar gesit wat hy en sy sussie moes opvoer. Hy het sangopleiding gekry by die sanger, Chris Coetzer (Drie Tenore) en sedert hy 18-jaar oud is open hy gereeld vertonings vir gewilde sangers soos Bobby en van Jaarsveld, Theuns Jordaan en Corlea Botha om maar net ’n paar te noem.

Liefhebbers van die gewilde Blouhond-teater in Pretoria, sal hom ook herken, aangesien hy gereeld daar opgetree het in die verlede. Verder was hy ook deel van die ensamble in die musiekblyspel, Droomkind, waarin Bobby van Jaarsveld die hoofrol vertolk het en is hy ’n gereelde gesig by musiekfeeste en konserte regoor die land.

Alhoewel hy voorheen al aan verskeie talentkompetisies deelgeneem het, is hy bly dat hy nooit moed opgegee het nie en besluit het om in te skryf vir Maak My Famous, wat hy beskou as een van die hoogtepunte van sy negejaar-loopbaan in die musiekbedryf. “Ek het nooit in my wildste drome verwag dat ek sou deurdring na die top 10 van die kompetisie nie, maar ek is so bly dat ek het want dit was ’n ongelooflike avontuur. So het ek die ware Henrico ondek, geleer wie en wat ek is en waarheen ek oppad is. Die musiekbedryf is nie maklik nie, maar alles is moontlik as jy deursettingsvermoë het en bereid is om hard te werk,” sê hy en meen dat hy dit die meeste geniet het om saam met Pedro Kruger ’n pragtige klavierweergawe van Eden se Superhero te doen.

Josh Groban, Tarryn Lamb, Elvis Blue, Adéle en Corlea Botha is almal kunstenaars vir wie hy groot bewondering het, omdat hy dieper storievertellersmusiek geniet. Hy sou ook nog graag eendag ’n duet saam met Tarryn wou opneem.

Al was hy effens geskok omdat hy Maak My Famous moes verlaat, omdat hy gevoel het dat sy optrede op die aand een van die bestes van sy loopbaan was, is hy baie opgewonde oor wat die toekoms inhou en meen hy dat die harde werk nou eers begin: “Ek is tans besig om aan materiaal vir ’n nuwe album te werk. Ek sal baie graag ook meer gereeld wil terug gaan Kaap toe om my nuwe ondersteuners te vermaak.”

Henrico wil graag vir hom ’n permanente plek vestig in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf. Hoor My Woorde is beslis ’n stap in die regte rigting en die hoopvolle boodskap sal aanklank vind by enigiemand wat motivering nodig het in moeilike tye. Die liedjie gaan nie net diep spore in die harte van luisteraars trap nie, maar is ook die begin van ’n splinternuwe hoofstuk in dié musikant se loopbaan.

Hoor My Woorde is op alle digitale platforms beskikbaar wees.

iTunes | Spotify | Apple Music

Social Media

Facebook | Instagram | Twitter

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!