Vir Fanus Pienaar is musiek maak deel van wie hy is. Sy nuutste enkelsnit John Deere Hoed is op 22 Mei op radio vrygestel en sal later vandeesweek op alle digitale platforms beskikbaar wees. Reputasie het ‘n Q&A met Fanus gedoen, lees meer hier:
Wie is Fanus Pienaar as hy by die huis is?
Ek is ‘n introvert van die verhoog af en ‘n baie rustige persoon wat hou van tyd saam met my seun en my familie. Ek kyk graag Televisie, veral sport soos rugby, visvang en jag programme en ek hou ook baie daarvan om soms vriende om my te hê en te braai oor ‘n naweek.
Beskryf jou musiekstyl in jou eie woorde?
My musiekstyl is maar ‘n tipiese Pop/Rock styl met diep betekenis en gevoel.
Wie is jou invloede/rolmodelle en hoe het hulle jou beïnvloed om te wees waar jy vandag is?
My pa was definitief ‘n baie groot rolmodel vir my en so ook my ma. In die musiekbedryf kyk ek op na kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Theuns Jordaan en Neil Diamond. My nederigheid en my volharding het ek definitief by my ouers geleer sowel as my geloof. As kunstenaar het ek baie by Steve, Theuns en Neil geleer, veral as dit kom by skryf, uniek wees, kwaliteit in wat ek doen en ook hoe om profesioneel op te tree.
Is daar ‘n staaltjie wat uitstaan van een van jou optredes?
Ek het gedurende inperking ‘n opening vertoning gedoen vir Juan Boucher en daai aand is ek gekontak deur Burre Burger om op te tree by die Geloftedag Vir Boere in die Heartfeld Arena in Pretoria saam met Steve, Bok, Juanita, Jay en vele meer. Hulle wou my daar hê vir my liedjie “Vir My Land” wat ek self geskryf het, wat ‘n groot eer.
As jy nie in die musiekbedryf was nie, waar sou jy gewees het?
Dis ‘n moeilike vraag want die liewe Vader weet al van die eerste dag in die wiskunde klas dat ek maar eerder eendag moes sing. Nee ek wou baie graag ‘n vlieënier of wildbewaarder geword het en sou dalk moontlik in daai rigting ingegaan het.
John Deere Hoed is beskikbaar vanaf 26 Mei op alle digitale platforms.