Om iemand vir wie jy lief was saam met iemand anders te sien en te weet hulle is gelukkig kan pynlik wees, al is dit vir die beste.

Gewilde rocker, Marcel Dalmayda, sing oor hoe dit voel wanneer liefde nie uitwerk nie in sy splinternuwe enkelsnit, Iemand Anders.

Louwrens Bezuidenhout, wat dié rockballade geskryf en vervaardig het, sê: “Die snit vertel die storie van ’n somerliefde wat baie vinnig, baie sterk geraak het. Dis die verhaal van twee mense wat mekaar gevind en liefgekry het. Soos wat die storie aanbeweeg raak dit egter duidelik dat, soos met baie dinge in die lewe, alles nie altyd uitwerk soos wat jy wil hê dit moet nie. Dit lei dan tot baie twyfel, vrae en pyn en almal ken die seer van verlore liefde op een of ander manier.”

“Mense gaan aanklank vind by die liedjie omdat daar, soos met my ander musiek, ware emosie en betekenis daaragter is. Dit gaan oor die gevoel om iemand te verloor vir wie jy lief is en hom/ haar daarna saam met iemand te sien en te weet dat dit nie sou uitwerk nie, maak nie saak wat nie,” voeg Marcel, wat al vir ’n dekade in die plaaslike musiekbedryf werk, by.

Iemand Anders is reeds dié veelsydige musikant se vyfde Afrikaanse radiovrystelling en beloof om binnekort die treffersparades te begin klim.

Marcel Dalmayda | Foto deur Brendan Croft

Alhoewel hy eers in 2013 eers professioneel begin sing het, bekoor dié Pretorianer al gehore vanaf sy kleuterskooldae en was musiekmaak nog altyd al wat hy wou doen.

Hy put inspirasie vir sy eie musiek uit sy eie lewenservaringe en meen dat groot rockgroepe en -musikante uit die verlede almal ’n groot invloed gehad het op sy eie styl.

Oor die jare, het hy ’n indrukwekkende lys loopbaan hoogtepunte bereik, waaronder sy blinde oudisie op en deelname aan The Voice SA in 2016, verskynings op Noot vir Noot en Musiek Roulette en vele meer.

Tans is al sy fokus op sy musiekloopbaan en werk hy baie hard daaraan om die beste weergawe van homself te wees.

Met Iemand Anders bewys hy weereens hoekom hy uniek is en sy plek in die rockmusiekbedryf verdien.

Die liedjie is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms.

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!