Anzelle is seker een van die mees belowende jong opkomende kunstenaars in ons land. Al is sy net 19 jaar oud het sy dit alreeds reg gekry om ‘n groot impak op mense te maak met haar buitengewone sangtalent.

Vandag stel Anzelle haar heel eerste enkelsnit en musiekvideo, Klein Botteltjie Groot Gif, vry en dit gaan julle voete behoorlike laat jeuk.

“Die liedjie gaan daaroor dat almal van ons groot drome en doelwitte het wat ons wil bereik en soms voel dit ontasbaar, maar maak nie saak wie jy is of wat jy wil doen of hoe groot of klein jy is nie, jy is groot gif en jy kan altyd jou drome bereik, maak nie saak wat nie. Op ‘n ligter noot gaan die liedjie ook ʼn bietjie oor kuier en om net ‘n lekker tyd te hê saam met al jou gunsteling mense.”- vertel Anzelle

Die musiekvideo hou baie verrassings in en dit gaan maak dat jy dit oor en oor gaan wil kyk en daarom wil ons nie te veel weggee nie.

Kyk Musiekvideo hier:

As jy vir Anzelle vra hoe sy dink die publiek op die liedjie gaan reageer vertel sy die volgende:

“Ek dink elke mens het sy eie smaak van musiek waarvan hulle hou. Ek het myself belowe al is daar negatiewe kommentaar oor my musiek sal ek altyd kies om die positiewe te vat.”

Om te dink hierdie talentvolle kunstenaar was op ‘n punt waar sy moed wou opgee om haar droom te leef, maar daar is ‘n tyd en ‘n plek vir alles. Anzelle sê dit is net die Here se genade, want die tydsberekening was perfek en in haar oë kon nie op ‘n beter tyd gebeur het nie.

Danie Du Toit van Spoegwolf is een kunstenaar wat haar baie inspireer en saam met wie sy nog graag sal wil werk. Sy is ook baie lief vir gedigte en poëtiese musiek. Daar is altyd iets uniek en mooi agter sy lirieke en sy passie vir die verhoog en die musiek wat hy sing het al soveel mense se denkwyse en lewens verander.

Anzelle | Foto: Facebook

Anzelle is tans ‘n tweedejaar student aan die Noordwes Universiteit waar sy BA Kommunikasiekunde en Literatuur studeer. Haar sangloopbaan het op die ouderdom van 10 begin toe sy aangesluit het by Studio Cha vir professionele sanglesse. Volgens haar afrigter Chantalle Schutte was dit Anzelle se stemkwaliteit wat van die begin af uitgestaan het.

In 2014 word sy genooi om deel te neem aan AMTC (Actors, Models and Talent for Christ) in Orlando, Florida. Oor die jare neem sy ook deel aan talle plaaslike en nasionale sang- en talentkompetisies om haarself verder te ontwikkel. Sy word ook aangewys as die wenner van die Garsfontein Kunstefees in 2016 & 2019.

Dit is nie al nie. In 2020 word sy ook aangewys as PACISA (Performing Arts Community in SA) se algehele wenner en in 2021 wen sy die tweede seisoen van die TV program – Begin Sing.

Wanneer Anzelle nie besig is om te sing nie, hou sy van fotografie, drama, gym en om gedigte te skryf.

 “Ek is baie energiek en ek praat baie. Ek is mal daaroor om saam met my vriende en vriendinne te kuier en tyd saam met my familie is vir my baie belangrik”.

Anzelle is gebore om op die verhoog te wees. Die toekoms lyk blink vir ‘n buitengewone kunstenaar soos Anzelle en veral ook nadat sy aan die einde van 2022 ‘n platekontrak losgeslaan het by Universal Musiek.

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!