TiNO - Sterrekind

Met sy virale videos het die TikTok ster, TiNO, vir homself ‘n platekontrak los gesing en nou is sy langverwagte debuut album getiteld Sterrekind uiteindelik hier.

TiNO, oftewel Tinotenda Singe, is in 2002 in Harare, Zimbabwe gebore.  As kleuter het hy saam met sy ouers na Suid-Afrika verhuis en hulle in Swellendam gevestig, en tans studeer hy Landbou by Elsenburg College in Stellenbosch.

TiNO het grootgeword met Engels, Shona en Afrikaans in die huis, maar het besluit om in Afrikaans te sing. ‘’Ek het verlief geraak op die taal. Ek was mal oor die verskillende genres. Ek het geluister na rock, boeremusiek en sokkie,’’ vertel hy. Vriende was beïndruk met TiNO se stem en het hom aangemoedig om dit op sosiale media te plaas. TiNO het video’s op TikTok geplaas en spog huidiglik met oor die 8000 “followers” en meer as 30 000 “likes”.

Na sy aanlyn sukses is TiNO genader deur Zinta Kymdel van ZinK Events wie hom aan Kobie Koen van Vonk Musiek voorgestel het. Kobie het vir TiNO studio toe gestuur waar hy sy eerste enkelsnit getiteld Kateriena Malherbe, geskryf deur die sanger en akteur Hennie Jacobs, saam met die bekroonde musiekvervaardiger, Tertius Human, opgeneem het.

TiNO het die sukses van Kateriena Malherbe opgevolg deur sprokiemooi weergawe van Herman Holtzhausen se Transkaroo saam met sanger Henning Joubert vry te stel.

Met Sterrekind deel TiNO vir die eerste keer musiek wat hy self geskryf het. ‘’Die album bestaan uit sewe ‘covers’ en drie oorspronklike liedjies. Die sewe covers is bekende liedjies wat ek baie na geluister het as kind en wat op ‘n manier met my gepraat het,’’ het TiNO gedeel.

Hierdie liedjies sluit TiNO se weergawes van Breyten Se Brief, Dans in Jou Taal, Lisa se Klavier, Beste Henry, Kateriena Malherbe en TiNO en Henning Joubert se verwerking van Transkaroo in.

TiNO se oorspronklike liedjies op die album sluit in Sterrekind, Afstand en Mandjie Vol Liefde.

‘’Ek het eintlik nie geweet ek kan skryf nie,’’ vertel TiNO. ‘’Ek het tydens die groot grendeltydperk idees en stories begin neerskryf en in liedjies probeer omskep, en ek hoop ek het dit reg gekry. Soms voel ek liedjies skryf hulself. Mandjie Vol Liefde het ek byvoorbeeld een aand tydens beurtkrag in die koshuis geskryf. Ek het geweet waaroor en oor wie die woorde gaan en dit het vir my ń halfuur gevat om die liedjie klaar te skryf.’’

Die liedjies uit TiNO se pen handel oor die liefde.”Sterrekind het ek geskryf uit twee verskillende oogpunte uit. Die eerste vers is geskryf uit my perspektief en die tweede vers is geskryf uit die perspektief van die persoon vir wie ek die liedjie geskryf het,’’ vertel TiNO. Hy sluit die lied af met die reel: ‘’die mense wie ons werklik lief het sal ons nooit verlaat nie en daar is dinge in die lewe wat die dood nooit kan raak nie.” Volgens TiNO maak hierdie die liedjie universeel. ‘’Dit gaan nie noodwendig oor ‘n romantiese liefdesverhouding nie. Dit kan gaan oor die liefde vir jou familie of selfs jou hond,’’ lag TiNO.

Oor Mandjie Vol Liefde vertel TiNO dat mense hulle eie afleidings kan maak, maar hy het dit geskryf vir ‘n meisie vir wie hy iets gevoel het, maar wie nie noodwendig dieselfde oor hom gevoel het nie. Afstand handel ook oor die tema van liefde en handel oor die effek wat afstand op ‘n verhouding kan hê.

Vir TiNO was die grootste uitdaging die tyd wat hy in die studio moes spandeer. ‘’Ek het regtig gedink dat die produksie van die album ń ‘walk in the park’ sou wees maar nee, ek moes tien liedjies in ń week se tyd opneem omdat ek terug Stellenbosch toe  moes gaan vir my studies. Tertius Human van Coolerbox Studios het vir my soos sy eie kind gelei in die studio en ek het baie by hom geleer. Ons het saam gesit en in ń kreatiewe manier aan die liedjies geskaaf tot ons tevrede was. Ek sien my musiek as ‘soulful’ en ek hoop mense gaan dit kan hoor in die woorde en die klanke,’’ het TiNO oor sy tyd in die ateljee uitgebrei.

Sterrekind beteken regtig baie vir TiNO, omdat hy nooit gedink het dat hy ‘n loopbaan in musiek sou volg nie, nog minder dat hy ‘n album sou opneem nie. ‘’My ouers verstaan nie Afrikaans nie , maar wat vir my baie spesiaal was is die feit dat ek vir hulle die hele album gespeel het en dat hulle dit baie geniet en trots is op my. Ek glo daarin dat musiek ń taal op sy eie is en almal voel dit,’’ vertel hy.

TiNO beplan om soveel moontlik lewendige optredes die jaar te doen en beplan ‘n spesiale projek met sy goeie vriend, die sanger Stefan Jansen, vir die einde van die jaar.

TiNO is genooi om einde Julie 2022 in Carlow, Ierland op te tree met hulle jaarlikse Summer Picnic. Saam met TiNO tree kunstenaars soos Appel en Ross Learmonth van Prime Circle op. Dit is vir TiNO ‘n groot eer om Suid Afrika te verteenwoordig tydens hierdie fees.

Sterrekind is beskikbaar op alle digitale platforms.

Leave a Reply

error: Content is protected !!