Wanneer jy die meesleurende wysie en hartroerende lirieke van die splinternuwe duo – Jacques en Liezel – se nuwe enkelsnit hoor, verstaan jy onmiddellik hoekom hulle reeds besig is om die harte van Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers te verower.

Uit My Hande, ’n volwasse kontemporêre snit uit hulle eie pen, is ’n rou lied oor verlore liefde.

“Ons het eendag in die kar gesels oor verhoudings en huwelike en hoe so baie paartjies opgebreek gedurende die Covid-19 pandemie en toe besluit om ’n liedjie te skryf oor die feit dat die einde van ’n verhouding gewoonlik deur een persoon bepaal word,” vertel Jacques Schoeman, die manlike stem in die groep.

Liezel voeg by: “Wanneer ’n vriendskap, verhouding of ’n huwelik verby is, is dit meestal ’n eensydige aksie. Een van die persone besluit dis die einde, deur hulle keuses of optrede, en dié besluit is uit jou hande. Jy het nie regtig ’n sê nie – om op te hou liefhê is al wat jy kan doen. Dis dan die beste en gesondste keuse vir jou!”

Die snit is deur Jattie de Beer van Artistry Productions vervaardig en die duo glo dat dit sal aanklank vind by ’n wye gehoor, omdat almal kan identifiseer met die seer, teleurstelling en eensaamheid wat gepaard gaan met die einde van ’n verhouding.

“Ons hoop dat die liedjie mense sal laat besef dat hulle meer werd is as om in ’n beledigende verhouding of huwelik te bly en dat hulle by ’n kruispad die keuse moet maak dat hulle beter verdien. Dit is soos die koorgedeelte sê: ‘… ek het probeer, maar dit was die laaste keer’,” sê Jacques.

’n Musiekvideo vat die snit, wat deur Adriaan Scheepers van The Huntsman vervaardig is, sal ook binnekort beskikbaar wees, maar hieroor wil hulle nog nie te veel verklap nie.

https://www.youtube.com/watch?v=Otmm951aRRY

Jacques Schoeman en Liezel Marshall het mekaar sewe maande terug ontmoet toe hy, deur middel van Facebook, ’n midi-keyboard by haar gekoop het. Hulle het dadelik gekliek, goeie vriende geword en besluit om saam musiek te maak.

Jacques is die trotse pa van ’n seuntjie en die eienaar van Iron Horse Customs wat spesialiseer in motorfietse. Sy liefde vir musiek is deur sy pa geïnspireer en hy het reeds op ’n jong ouderdom begin klavier en kitaar speel. Omdat hy vir jare die aanbiddingsleier was in sy kerk, vind hy aanklank by geestelike musikante soos Jo Black, Chris Tomlin, Maverick Worship, Elevation Worship, Kari Jobe en vele meer. Hy hou egter ook baie van country-, jazz- en rockmusiek. Wanneer hy nie musiek maak nie, geniet hy dit om ou voertuie te restoureer en langspeelplate te versamel.

Liezel kom uit ’n musikale huis en is al een-en-twintig-jaar in die musiekbedryf doenig. Sy het haar eerste gospelalbum in 2000 uitgereik, waarna twee ander en ’n rockalbum gevolg het. In 2010 is sy as een van Huisgenoot se Liedjieskrywers van die Jaar benoem en in 2019 is haar gospelalbum, Anker, genomineer vir ’n Ghoema-toekenning. Sy was ook ’n paar jaar deel van die groep, Onbeskaamd. Wanneer sy nie musiek maak nie, bestuur sy haar eie besigheid wat spesialiseer digitale inhoudskepping en probeer sy doelbewus om elke dag voluit te leef. As sy nie kon sing nie, sou sy graag ’n ballerina wou wees en verklap dat kontemporêre geestelike kunstenaars soos Chris Tomlin, Cece Winans, Darlene Zschech, Brooke Fraser en meer ’n groot invloed gehad het op haar eie musiekstyl.

Jacques en Liezel wil graag hoop bring vir diegene wat deur ’n moeilike tyd in hulle verhouding gaan met hulle nuwe enkelsnit, Uit My Hande, en hoop dat dit werklik ’n positiewe impak op luisteraars sal hê.

“Aan die einde van die liedjie, moedig ons almal wat in ’n verhouding of huwelik is om mekaar in slegte tye by te staan en aan te hou veg vir mekaar voordat dit te laat is. As dinge dan steeds nie uitwerk nie, moet jy egter besef dat jy okay gaan wees omdat moeilike omstandighede van jou ’n sterker mens kan maak,” sluit hulle af.

Uit My Hande is beskikbaar op alle digitale platforms.

Leave a Reply

error: Content is protected !!