Gazelle en Synth Peter is terug met ‘n nuwe weergawe van die treffer Die Verlore Seun, genaamd Sorry Pappa.

13 Jaar gelede het die enigmatiese Gazelle ons betower met sy magiese boere-electro. Die 2009 enkelsnit ‘Die Verlore Seun’, ’n tong-in-die-kies weergawe van die Bybelse gelykenis, het vir ’n generasie van pre-Sosiale Media era plaaskinders die woorde gegee om hul ontdekkingslus te beskryf.

“Sorry, Pappa/ek moes die plaas verlaat/want ek mis die disco-ligte/te veel” het ’n nie-amptelike volkslied geraak. Asof dit voorbestem is het die verlore seun sowaar weer terug huis toe gekeur. Op die nuutste weergawe van die enkelsnit verskyn daar ’n nuwe frase “Op die plaas wil ons raas”.

Gazelle moes tydens die inperkingsperiode as gevolg van reis verwante komplikasies sy stralejakker leefstyl prys gee en weer gaan aanklop by sy geboorte plaas in Limpopo. Hy het wel nie op sy louere gerus nie en maak toe kontak met die hedendaagse Elektroniese Dans Musiek wonderkind, Synth Peter. Saam het hulle ‘Die Verlore Seun’ ’n 2022 make-over gegee. Die nuutste weergawe, ’Sorry Pappa’, klink soos ’n plaasskuur wat uit sy nate bars. Bassbins, strobe lights, hooibale, khaki toerusting en gloeistokkies.

Die onverbiddelike bas-ritme besit die mag om jou basis chakra te bevry. Gazelle en Synth Peter het hul stedelike kennis terug gebring plaas toe en die kombinasie is ekstase. Die profesie is vervul.

Sorry Pappa is beskikbaar op alle digitale platforms.

Leave a Reply

error: Content is protected !!