Sincerely Anne - Quick Fix

Die talentvolle sanger en liedjieskrywer, Sincerely Anne – wat bekend is vir haar strelende stem en aangrypende lirieke – het pas in ware alternatiewe pop-styl ’n nuwe enkelsnit uitgereik wat op die man af is en luisteraars aanmoedig om nie tevrede te wees met minder as wat hulle verdien nie. Dit is ook die tweede snit vanaf haar lang-verwagte debuut-album!

Volgens haar gaan Quick Fix, wat jou uitnooi om saam te dans, daaroor om jou waarde te besef en te weet dat jy verdien om soos ’n koningin behandel te word in ’n liefdesverhouding. “Die liedjie vertel die verhaal van ’n vrou wat die oog van ’n man vang wanneer sy weerloos is, maar hy is nie op soek na ’n betekenisvolle verhouding nie. Die vrou se innerlike koningin verteenwoordig die intrinsieke waarde en integriteit wat sy vir haarself geskep het deur harde werk en genesing. Hierdie koningin probeer om die man te inspireer om eers sy ‘eie kroon’ te ontdek voordat sy bereid is om ’n verhouding met hom aan te knoop.”

Basies wil die kunstenaar die boodskap oordra dat die persoon vir wie jy jou hart gee bereid moet wees om net soveel in julle verhouding te sit as wat jy is en dat jy nie met minder tevrede hoef te wees nie. “Ons kan net vir ander gee wat ons vir onsself kan gee – net soos wat ons ander net soveel kan liefhê soos wat ons onsself liefhet.”

Anne glo dat luisteraars die manier sal waardeer waarop hierdie eerlike liedjie, met sy energieke melodie, oorgedra word. Verder bevat dit ook moderne retro-elemente wat herinner aan musiek uit die 80’s en dit ’n unieke klank gee.

Die liedjie is deur die bekroonde musikant, Daniel Baron, vervaardig en word gekomplementeer deur ’n treffende musiekvideo wat verfilm is deur Matthew Levings by Stable Valley Riding School.

Die idee vir die video – wat ’n pragtige perd en uitrusting insluit – is deur Anne self gekonsepsualiseer. “In die video gee die koningin ’n man wat in haar belangstel die koue skouer en moedig sy hom aan om eers sy eie kroon te gaan soek – dat ’n koningin met niks minder as ’n koning tevrede sal wees nie. Die sub-teks is dan natuurlik ook dat elke man ’n koning binne hulle het en dat hulle hul eie waarde moet besef,” deel sy.  

Kyk die video hier:

Quick Fix is Anne se vyfde enkelsnit en volg in die suksesvolle voetspore van treffers soos She’s On Fire, Poison, Transcend, en Dying To Love You, wat Jacaranda FM se Hot Hit of the Day was op die dag waarop dit uitgereik is.

Haar laaste twee enkelsnitte is beskikbaar op haar debuut-album, To Whom It May Concern. Dit bevat tien snitte, wat wissel tussen alternatiewe popliedjies, emosionele ballades en dramatiese verwerkings, en moderne en futuristiese elemente kombineer om ’n nostalgiese klank te skep. Volgens haar is dit ’n album wat die siel sal raak en luisteraars sal help om te genees.

“Elke liedjie is noukeurig saamgestel om die lirieke en emosie daaragter te komplementeer, sodat luisteraars ingetrek word in elke liedjie,” verduidelik sy. Om dit anders te maak, is daar ook baie vioolstukke by haar liedjies ingesluit. “Ek beskou my viool as ’n uitbreiding van my stem, en het daarom besluit om op sommige liedjies viool te speel omdat dit emosie weergee wat baie ander elemente nie kan nie.”

Volgens Anne, is liefde en hartseer universele temas waarby almal aanklank vind. Haar eie album is ’n tipiese selfontdekkingsreis ná ’n gebreekte hart.

Sy sonder Oh, What A Crime en Cease Fire uit as haar gunstelingliedjies op die album. “Eersgenoemde is die mees emosionele liedjie wat ek nog ooit geskryf het en bevat klassieke elemente waaroor ek mal is. Laasgenoemde het ’n groot rol gespeel om my selfvertroue as liedjieskrywer te verbeter.”

Alhoewel dit haar baie genoegdoening verskaf het, was daar steeds uitdagings tydens die opname van die album. “Een van die grootste uitdagings was my eie gedagtes en om die moed bymekaar te skraap om stukkies weerloosheid met die publiek te deel,” sê Anne. “Ek het ook geleer dat dinge nie geforseer kan word nie.”

Die album is nou beskikbaar op digitale platforms.

Kry dit hier: https://album.link/i/1650792179

Anne woon tans in Johannesburg, maar het op ’n plaas grootgeword waar sy tuisonderrig ontvang het tot sy dertien was. Sy is die jongste van vyf kinders en het van jongs af viool gespeel. 2017 was die jaar waarin sy amptelik die musiekmark betree het.

Die sanger en liedjieskrywer het al baie loopbaanhoogtepunte oor die jare bereik en die verhoog gedeel met van die grootste name en orkeste in die musiekbedryf. In haar vrye tyd, gee sy viool- en klavierlesse.

Noudat haar album afgehandel is, beplan Anne aan die amptelike bekendstelling daarvan vroeg volgende jaar. Wanneer sy nie besig is om klas te gee of musiek te maak nie, luister sy filosofiese potgooie om haarself te verbeter. “Verder fokus ek daarop om te doen waarvan ek hou en dit is om lewenslesse, emosies en filosofieë in kuns te omskep.”

Met Quick Fix, hoop Anne om luisteraars te inspireer om hulle eie waarde raak te sien. “Ek dink daar is ’n sterk, betekenisvolle filosofie in die liedjie, waarby mans en vroue sal aanklank vind,” sluit sy af.

Quick Fix is nou beskikbaar op digitale platforms.

Leave a Reply

error: Content is protected !!