Sedert die talentvolle sanger en liedjieskrywer, Simoné Roets, in 2021 besluit het om die Afrikaanse musiekmark te betree, het sy nog net beïndruk met haar unieke outentieke styl en sielvolle aanslag.

Nie net het haar arsenaal van oorspronklike musiek skielik bo-aan verskeie radio-stasies se treffersparades gepryk nie, maar sy is ook in 2022 benoem vir ’n Aitsa-toekenning (Nuweling van die Jaar) en het tydens dié geleentheid opgetree saam met kunstenaars soos Elandré, Refentse en Demi Lee Moore.

Sy is vanjaar ook benoem vir vier Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaartoekennings, waarvan die wenners in April  aangekondig word.

Nóú het sy die volgende opwindende fase van haar loopbaan amptelik betree met die vrystelling van haar langverwagte debuut-album, en die eindresultaat is hoendervleismooi.

Wanneer jy haar uitvra oor Herinner My, verklap sy dat die titelsnit die eerste liedjie was wat sy in Afrikaans geskryf het toe sy nog in Australië gewoon het. Omdat dit is wat haar album-droom laat vlam vat het, het sy besluit dat dié titel baie gepas sou wees.

Die album is deur Jattie de Beer van Artistry Productions vervaardig en bestaan uit elf liedjies, wat wissel tussen akoestiese en pop-verwerkings en sorgvuldig uitgesoek is om met luisteraars se harte te praat.

“My teikenmark is mense wat lief is vir ons taal en stories,” verduidelik sy. “Ek het van die liedjies self geskryf, ander saam met Jattie en my ma was ook betrokke by die skep van ‘Sondag P.M.’ en ‘Om Elke Hoek en Draai’.”

Wat sy die meeste geniet het van die drie jaar wat dit geneem het om die album saam te stel, was om iets te skep uit niks. “Elke noot, instrument, oomblik, liriek en melodie is 100% oorspronklik – dit het lank gevat, maar ek en Jattie (en almal betrokke) is trots op die finale produk. Die vriendskappe wat ’n mens bou deur hierdie kreatiewe proses staan ook vir my uit.”

Haar gunsteling-snit op die album verander gereeld. Op die oomblik is dit Hou Vas, wat gaan oor die gedagte dat vrees (as emosie) ’n realiteit is. Sy deel: “Die liedjie is geskryf met die hoop om te bemoedig – ek dink ons kan vrede ervaar, selfs in oomblikke wat ons oorweldig voel met angs en vrees. Dis nie altyd een óf die ander nie.”

Om dinge nog meer opwindend te maak, het sy ook pas ’n nuwe enkelsnit en musiekvideo uitgereik. Die enkelsnit, Skete, ondersoek ons vermoë (of onvermoë) om in die oomblik te leef. Die inspirasie vir die liedjie is gebore uit die vraag of ons die som van ons ‘skete’ is en of dat ons werklik in die hede kan leef.

Sy voeg by: “Ons moet leer om regtig net vinniger oor goed te kom, anders mis ons ’n klomp mooi dinge langs die pad.”

Herinner My, die titelsnit, se musiekvideo deel die kunstenaar se musiekreis, vanaf haar woonstel in Brisbane – waar alles begin het – tot in die ateljee waar die album opgeneem is.

“Dit wys so ’n bietjie hoe ons gewerk het in die ateljee aan die hele album. ‘Herinner My wie ek is’ is ook van toepassing op my storie en die feit dat ek nou musiek meer doelgerig najaag,” sê sy oor die video wat by Odyssey Studio in Lynwood Bridge en Artistry Productions se ateljee verfilm is, met Adi van der Walt as vervaardiger.

Kyk die video hier:

Simoné het in Nelspruit groot geword en het eers op universiteit haar passie vir musiek ontdek. Sedertdien het sy ’n kortspeelplaat en verskeie ander Engelse liedjies uitgereik en was sy ook betrokke by die Hillsong City Campus in Brisbane, Australië, waar sy vir lank gewoon het.

Alhoewel sy al vir ’n geruime tyd terug is in haar geboorteland en intussen ook ma geword het van ’n pragtige dogtertjie, het sy nog geensins begin afskaal nie en geniet sy dit om met baie verskillende dinge besig te bly.

Buiten vir sing en liedjies skryf, help sy ook ’n kerk op kontrakbasis met hulle musiek, doen sy prokureurswerk en is sy ’n F45-fiksheidsafrigter – iets wat sy baie geniet, omdat sy daarin glo om aktief te bly.

Haar planne vir 2023 sluit in om soveel optredes as moontlik te doen, genoeg tyd saam met haar gesin en familie te spandeer en haarself te vestig as liedjieskrywer wat vir ander kunstenaars skryf. “Die musiekbedryf het my geleer om in my baan te bly en nie te veel rond of om te kyk nie,” sê sy.

Simoné is baie opgewonde om Herinner My met die wêreld te deel en hoop dat dit elkeen se hart sal raak wat daarna luister. Sy moedig ook almal wat dit hoor aan om haar te laat weet wat hulle dink.

“Dis vir my ongelooflik spesiaal om te hoor hoe my musiek iemand anders geraak het, so laat weet asseblief watter liedjie met jou praat,” sluit sy af.

Die album is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms.

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!