Schwabie en Henru het onlangs hul splinternuwe enkelsnit, “Rooi Wit & Blou”, op alle digitale platforms vrygestel. Hierdie talentvolle duo het weereens kragte saamgesnoer om ‘n lied te skep wat diep in die harte van luisteraars sal insink.
“Rooi Wit & Blou” is ‘n emosionele en inspirerende lied wat deur Schwabie en Henru geskryf is. Die lied is opgedra aan ‘n dierbare vriend van die duo, sowel as aan alle Suid-Afrikaanse burgers (SAFFAS) wat in die buiteland werk en leef. Die lirieke handel oor die krag van positiewe denke, selfs te midde van moeilike omstandighede, en spreek die diep verlange na familie en vriende aan wat dikwels met emigrasie gepaard gaan.
Hierdie vrystelling volg op die sukses van Schwabie en Henru se eerste gesamentlike enkelsnit, “Goeie Ou”, wat in minder as drie maande byna 1 miljoen streams behaal het. Met “Rooi Wit & Blou” hoop die duo om weer die harte van luisteraars te verower en ‘n boodskap van hoop en verbintenis oor te dra.
