Op die publisiteitsomslag van die gospelsanger Rudi Muller se jongste enkelsnit, We’ll Rise,  staan ’n gesiglose skare voor ’n kruis; hulle hande na die kruis uitgestrek.  Juigend en jubelend oor die genade en liefde van die Here Jesus.

Genade en liefde is ook die boodskap wat Rudi met die snit, vanaf sy geestelike album,  ’n Nuwe dag, aan die luisteraars wil oordra.

Hy glo hy is net die boodskapper, daarom het hy daarteen besluit om ’n foto van homself wat ’n kruis vashou op die omslag te gebruik.  “Ek wil nie probeer voorgee om iemand te wees wat ek nie is nie. Dié snit kom uit my hart uit. Die aanslag is wel lig en lekker en as jy ’n danspasssie om die tafel wil maak – is dit nie uit ligsinnigheid nie, maarsommer uit dankbaarheid teenoor die Here vir die kleinighede in jou lewe, want dis presies wat jy sal ervaar.”

Dit is andersins ook ’n kragtige en opbeurende lied wat die hoop en oorwinning wat ons in geloof vind, vier.

Die 47-jarige sanger is al vir sowat vier dekades in die vermaakbedryf doenig. Hy het op sesjarige ouderdom sy debuut op een van Nigel, in die Oosrand se vermaakverhoë gemaak,  en was later die oulike, ronde sproetgesiggie in die  Goed Beter Botter-TV-advertensie.

Gedurende 1999 het hy sy eerste platekontrak losgeslaan én toe het hy net so bekend (en geliefd) geword soos sy treffers Warm patat, en Dokter, dokter. Dit was net maar die begin van ’n musiekpad, wat oor sewe vollengte albums, optredes landswyd, bekendheid en liedjies wat op radiostasies se toptreffer-parades beland het, gestrek het.

Maar iewers in 2010 het sy loopbaan ’n ander rigting ingeslaan, wat hy ook as sy persoonlike genesis beskou.  “ ’n  Reeks gebeurtenisse het my  oor die lewe en spesifiek my geloof laat nadink. Ek het ook ’n noue ontkoming met die dood gehad en dít het bevestig wat ek in my hart glo – dat ek vir die Here moet sing en liedjies skryf.”

Sy eerste gospelalbum, Deurbraak, is uitstekend deur die plaaslike mark ontvang, en daarna het hy onder andere saam met die gewilde groep  Manne wat glo, wat bestaan het uit Jan de Wet, Leon Ferreira en Willie Joubert, opgetree. Dié groep het ook drie albums uitgereik.

Laasgenoemde het gewen en Rudi en sy gesin is vandag trotste Paarliete. Hy is ook ’n besigheid, Creed & Ark, wat op onder meer   bemarking en kreatiewe inhoudsvervaardiging fokus.

Vir Rudi druk We’ll Rise ook die temas van die Christelike geloof uit; vind krag en troos in Jesus Christus, en die belofte van ewige lewe.  “Die snit, sê Rudi, dien ook as ’n bron van  aanmoediging vir luisteraars wat moeilikhede in die gesig staar, en herinner hulle aan die uiteindelike oorwinning en ewige hoop wat deur geloof in Christus gebied word.’’

Rudi is ook ’n knap liriekskrywer, en dié snit is ’n getuienis vir sy meesterlike pen. Hy het die snit ook self gekomponeer.

We’ll Rise is een van die beste gospelsnitte wat dié jaar uitgereik is en sal by luisteraars van alle ouderdomme byval vind.

Leave a Reply

error: Content is protected !!