Rohan Britz se tweede enkelsnit, Ek Mis Jou, vang die gevoelens en angs van verlief en verlore wees perfek vas. Dit is geskryf vanuit die perspektief van ’n jong man wat die grootste liefde van sy lewe verloor het. Die snit ondersoek daarom ook dié effek sowel as die  ervaring wat dit op ’n persoon het, wat nooit kans kry om uiting te gee aan dáárdie mengelmoes van emosies nie.

“Ek en Chantelle is nou al langer as ’n dekade getroud en ons liefde het deur die jare net sterker geword,’’ knipoog Rohan. “Dit is ’n baie persoonlike snit, en ek het die liedjie geskryf toe ons paaie vir ’n wyle geskei het. Ek het nooit besef dat ek haar so baie gemis het nie. Die snit verwoord die deurmekaar gevoelens wat ek gedurende daardie tydperk van my lewe ervaar het.’’

Rohan het die liedjie reeds tien jaar gelede geskryf, maar nadat hy besluit het om dit op te neem het sy goeie vriendin, Zurilda, saam met hom aan die lirieke getorring en die resultaat is ’n op-popskop wat jou soos gonsende muskiete op die dansvloer gaan laat tol.

Ek Mis Jou het ’n lekker popskop en dit beloof ook om die voete aan die beweeg te kry. “Ek hou van ’n goeie danstreffer,’’ verklap Rohan, “dit is ’n snit waarop ek ook sal dans. En dit is ook die rede waarom ek besluit het om die lirieke met dansmusiek te kombineer. Ons Afrikaners hou maar van ’n lekker danspartytjie.’’

Kyk die musiekvideo hier:
https://www.youtube.com/watch?v=S1nE5xTCSwo

Rohan, wat in Port Elizabeth (nou Gqeberha) gebore is, bly al ’n geruime tyd in George in die Weskaap en hy put sy musikale inspirasie uit die skoonheid van sy omgewing. “Ek sê altyd dat ons in die mooiste deel van ons land bly.”

Hoewel Rohan eers verlede jaar amptelik sy toetrede tot die Afrikaanse musiekbedryf met die snit, Onthou, het hy al lankal musiek omarm. “Ek het van jongsaf  ’n speel-speel mikrofoon besit. Dáárdie mikrofoon het oral saam gegaan en as ek die kans gekry het, het ek vir die grootmense en kinders gesing.  Ek het ook altyd ’n speelgoed vragmotortjie saam karwei.’’

“Gedurende my kinderdae het ek nie té veel ambisie gehad nie; ek wou ’n vragmotorbestuurder en ’n sanger word. Punt. Klaar,” lag hy. “Ek het toe nooit die geleentheid gehad om self ’n vragmotor te bestuur nie, maar ek besit vandag my eie besigheid Couriers & Removals. Ek het ’n paar personeellede in diens wat dié vragmotors bestuur.’’

Hy het vir bykans twaalf jaar nie té veel aandag aan sy musiek geskenk nie, “want ek was bedrywig met my besigheid.’’  Maar hoe ook al, musiek was altyd deel van sy lyf, van sy ritme, van sy menswees. “Ek het ’n groot passie vir musiek en luister veral na Country en Afrikaanse musiek. Ek put veral my inspirasie uit die musiek van Juan Boucher. My ondersteuners beweer ons het baie dieselfde klank,” vertel hy.

Rohan se besigheid is uiteindelik goed op dreef en vir nou wil hy die vragmotors aan sy bestuurders oorlaat en net op sy musiek fokus. “Ek het nou die tyd om op my musiekloopbaan te fokus. Ek beplan om in my tuisdorp op te tree en daarna die lang pad (nee, nie in ’n vragmotor nie) aan te durf en my musiek aan almal bekend te stel; van Pretoria tot in die Karoo.’’

Rohan het ’n  unieke basstem (heeltemal anders as die musiekmark wat deur die alte, tenore en baritone oorgeneem word) wat by baie musiekliefhebbers sal byval vind. Sy stem resoneer ook uitstekend met die lirieke.

Hy beplan om eersdaags nog ’n paar snitte op te neem en uit te reik. “Dié liedjie is net die begin. Ek skryf nie al my snitte self nie en het ’n span saam met wie ek werk. Ons is reeds besig met ’n derde snit.”

Darryl de Lange het die snit opgeneem en verwerk.

Ek Mis Jou is beskikbaar op alle digitale platforms.

Leave a Reply

error: Content is protected !!