Die sanger, skrywer, akteur, en radio-aanbieder, Riaan Grobler,  het homself die afgelope twee dekades bewys as een van Suid-Afrika se veelsydigste kunstenaars. Sy liedjies fokstrot nie net saam met  die lirieke nie, sy stem pop ook blitsvinnig oor die note.

Só saam met sy jongste enkelsnit, ’n Dag Sonder Jou, wat hy in samewerking met die  Kaapse sangeres en smaakmaker, Jomari Beukes, opgeneem het,  het Riaan ook dié maand sy debuutroman, Gehieme op Philidelphia, uitgereik.

Riaan was nog nooit een van dáárdie kunstenaars wat homself tot ’n spesifieke musiekgenre beperk het nie, maar hy het tog deur die jare bekend geword as ’n popsanger wat oor die liefde en al die fasette sing.

Dit is ook waarom hy besluit het om sy hand aan ’n romantiese verhaal te waag, want hoewel Riaan by die agterdeur staan wanneer dit by die liefde kom, verstaan hy die liefdesdinamika tussen twee indivudue baie goed.

Die gemaklike en bevredige manier waarop hy met die liefdesgenre omgaan word baie goed in sy roman én die enkelsnit gereflekteer.

’n Dag Sonder Jou kan ook maklik die temalied van sy boek word, sou dit wel in ’n rolprent omskep word; die liedjie beskryf twee mense wat mekaar, ongeag moeilike omstandighede, vind en hulself troos in die wete  …”dat ’n dag sonder jou  voel soos ’n leeftyd vir my…”

In die vuurwarm popsnit wyk Riaan ook nie af van sy unieke styl nie. Enersyds is dit ’n snit wat jou aan die dink gaan sit oor die liefde, maar andersyds is dit ook ’n lekker dansbaantreffer.

Riaan het al verskeie duette saam met sangers soos Juanita du Plessis, Jeniffer Zamudio, David Fourie en Nadia Beukes opgeneem. Met die duette het hy bewys dat sy stem níé net aanpasbaar en veelsydig is nie, maar dat hy ook met gemak tussen die hoër C-note en laer G 2-note kan beweeg.

Die snit saam met Jomari, wat al sestien jaar in die musiekbedryf doenig is, is ’n verfrissende verrassing. Die twee se stemme kombineer so goed soos Sprite Zero en ’n vrugtige Moscat.

Die effek wat hulle stemme op die luisteraar het, skep bykans ’n onmiddellik gevoel van euforie.  Die koorgedeelte is onvergeetbaar en sal beslis iewers in die geheue vasteek en herhaal word.

Jomari, wat nou voltyds as persoonlike assistent vir ’n energieverskaffer werk, sê dat sy vir Riaan al baie jare ken en dat hulle “vriendskap op eerlikheid en respek gegrond is.”

Die snit is ’n gesamentlike penpoging van Arri Oppermand en Samantha Leonard.

Jomari is nie net bekend vir haar vernuf agter die mikrofoon as agtergrondsangeres nie, maar ook as skrywer menige Afrikaanse lirieke het al uit haar pen gevloei. “Elke mens het ’n storie om te vertel en dit is lekker om lirieke te skryf wat ’n verskil in iemand se lewe kan maak,“ sê Jomari.

Kyk die musiekvideo hier:

Riaan is nie net veelsydige radio-omroeper (hy werk sedert 2018 as omroeper by Pretoria FM) en sanger is nie, maar is ook nie bang om nuwe uitdagings aan te pak en daarvan ’n sukses te maak nie.

Hy het tydens die COVID-19 pandemie begin bak, melkterte, fyngebak en troukoeke, wat net so goed op die tong soos sy musiek val. Hy het ook begin hekel en en het toe ook al begin skryf aan Geheime van Philidelphia, wat kort na die verskyning op die topverkoperlys beland het.

Riaan se diep liefde vir musiek (en natuurlik ook vir bak) figureer ook in dié roman aangesien die hoofkarakter ’n sanger en restauranteur is.

Die boekskryfproses was vir Riaan baie moeiliker as om albums en enkelsnitte uit te reik. “Om ’n boek te skryf is baie anders as om lirieke te skryf, maar tog is daar raakpunte, liedjies moet ook stories vertel.“

“My lewensmotto is om enige uitdaging aan te pak en ook om kanse te waag; as jy dit nie doen nie, kan jy skade aan die onbekende aanrig omdat jy nie weet wat kon gebeur het nie.’’

Riaan het drama aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie studeer en het in verskeie verhoogproduksies opgetree, maar nadat hy in 2007 aan die realiteitsreeks Supersterre deelgeneem het, het sy natuurlike sangstem vir hom nuwe deure oopgemaak.

Die gevolg was platekontrakte, landwye vertonings en geleenthede om saam met die land se bekendste sangers te werk.  Riaan het al sewe vollengte albums asook verskeie enkelsnitte die lig laat sien.

Na jare van klippe kou en voortbeur is Riaan ’n bekende naam in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, maar hy skryf nie sy sukses net toe aan homself nie. Hy het nog altyd erkenning gegee aan dié wat die pad in die vermaakbedryf vir hom makliker gemaak het.

n Dag Sonder Jou is ook ’n bewys daarvan dat twee stemme soms net beter as een kan wees…

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!