Vandag bring Reputasie ‘n Q&A van Anne-Marie van Eeden, sy vertel ons meer van haar nuwe album Optelwoorde, nuwe musiekvideo en ook haar planne vir die res van die jaar.

Jou album “Optelwoorde”, stel vry op Vrydag 14 April. Wat was jou inspirasie vir die nuwe album? Kan jy ons ‘n bietjie meer vertel oor jou kreatiewe proses toe jy die liedjies geskryf en opgeneem het?

Tydens die grendeltydperk het alles so half tot stilstand gekom. Ek het myself betrap dat ek, alleen in my huis, al hoe meer op Netflix en sjokolade begin staatmaak het vir afleiding. Ek het eenvoudig besluit om myself uit te daag om ‘n projek aan te pak – en woorde sou die tema wees. Ek het woorde gaan “optel” vir ‘n nuwe album deur boeke en digbundels nader te sleep en te begin lees tot ek iets vind wat my hart roer. Dan het ek het klavier toe geskuif om die woorde te toonset.

Optelwoorde bevat gedigte van Koos van der Merwe, C. Louis Leipoldt, Annie Johnson Flint en ook gedeeltes uit die Bybel wat ek getoonset het.

Dis vir my belangrik dat ek nie net eenvoudig die woorde in ‘n spesifieke melodie of genre “in forseer” nie, maar dat die woorde die proses stuur.

Helmut Meijer is die regisseur en ek was bevoorreg om die beste van die beste instrumentaliste in Suid-Afrika te kon gebruik. Dit was eenvoudig ‘n belewenis om te sien hoe elke liedjie net nog verder kon groei met die insette van elke musikant se unieke vaardighede en talente.

Hoe verskil “Optelwoorde” van jou vorige albums? Was daar enige nuwe elemente of temas wat jy wou verken in hierdie album?

Toe ek met die liedjies by Helmut aankom, het ek ‘n goeie idee gehad van wat ek wil hê maar ek wou nie in die detail vasval nie (dis nogal ‘n ding waaraan ek moet werk) en ek wou doelbewus spasie laat sodat die skeppingsproses in die studio kan voortgaan.

Ek het ‘n wye verskeidenheid genres gebruik, van rock- en klassieke elemente tot jazz- en folk-klanke.

Ek het beslis ook baie meer “gewaag” met die vokale opnames. Ek het myself laat gaan! Dit was bevrydend.

Die album bestaan uit 10 enkelsnitte, watter enkelsnit het vir die grootste uitdaging gesorg?

Die lied Ek Ken Genade was ‘n lekker uitdaging en ook ‘n verantwoordelikheid. Om Beethoven se Maanlig Sonate te gebruik as basis vir ‘n kontemporêre ballade was ‘n interessante een! Die woorde is deur Koos van der Merwe geskryf, die  viool- en kontrabas party is deur my tweelingsuster, Lizanne Barnard geskryf met die virtuose Veronica Bell as violis. Ek is mal oor die lied (al moet ek dit nou self sê)! Dit was ‘n spanpoging.

Watter enkelsnit op die album is jou gunsteling en hoekom? 

Ek dink my gunsteling is Waarvoor is Jy Bang. Elke keer as ek daarna luister kan ek nie help om breed te glimlag nie – die “rock vibe” is aansteeklik en mens wil net beweeg. Die drommer (Vinnie Henrico), basspeler (Schalk Joubert), saksofoonspeler (Philip Holder) en vervaardiger (Helmut Meijer) het hulleself oortref! 

Jy stel ook ‘n nuwe enkelsnit, EK IS HIER vry, tesame met die musiek video. Vertel ons meer oor die enkelsnit en die video?

Hierdie duet tussen my en Koos van der Merwe is deur my tweelingsus, Lizanne Barnard, getoonset – dit het ‘n sagte jazz inslag. Ons uiteenlopende stemkleure werk verassend goed saam.

“As jou pille nie jou kopseer stop nie, en geen partytjie gee jou meer ‘n skop nie, as jou miljoenrandskip in die see gesink het en jou sterre almal ophou blink het…. EK IS HIER”. Al kies ons God soms heel laaste nooi Hy ons steeds uit om na Hom te kom. Hy bly die Konstante.

Die video is deur Charl du Preez opgeneem. Hy is ‘n uiters talentvolle man en ‘n absolute plesier om mee saam te werk. Hy gebruik die “skeppingsproses” van die liedjie as konsep – van ‘n melodie wat aanvanklik op die klavier uitprobeer word, die stemopnames in die studio, asook gesprekke om die stoeptafel wanneer ons n breek neem en filosofeer oor woorde, God en musiek.

Watter advies sal jy aan aspirant-kunstenaars gee wat probeer om in die musiekindustrie deur te breek?

Die musiekindustrie vereis deesdae meer as net musiektalent. Weet wat jou sterk en swak punte is. As jy byvoorbeeld n goeie stem het maar nie so goed is om jou liedjies te verwerk nie of dalk ‘n goeie liedjieskrywer is maar nie so gesout is in bemarking en sosiale media nie, kry eenvoudig kenners om jou te help – al moet jy hulle betaal. Dit sal ‘n goeie belegging in jou loopbaan wees. Dit is ook belangrik om met integriteit in die bedryf om te gaan – niemand wil met ‘n temperamentele prima donna werk nie. O ja, en tree op. Mense moet jou hoor!

Hoe balanseer jy jou musiekloopbaan met alles anders wat jy aanpak (onderwys, ma en ouma wees, lid van Keepersoul, motiveringspreker) 

My lewe is vol en besig maar ek geniet elke faset. Ek probeer om projekte te kombineer – as ek bv Portugal toe gaan vir die Vrouebediening KeeperSoul, is dit ideaal om sommer ‘n musiek optrede daar te reël of as ek Suid-Afrika toe gaan om vir my familie te kuier om dan by Kerke te bedien as motiveringsspreker of om nuwe materiaal op te neem of wat ookal.

My kinders is almal reeds volwassenes en hulle is my grootste “fans”. Hulle help my met praktiese dinge soos om my hond op te pas as ek moet reis, om musiek videos van my liedjies te maak en my te help met die tegniese uitdagings van rekenaars en die internet! Ouma-wees is die beste ding ooit! Dalk maak ek nog ‘n hele album met al my gunsteling slaapliedjies, spesiaal vir my kleinkinders.

Wat is jou planne vir die res van 2023?

Optelwoorde word nou die wye wêreld ingestuur en die vrystellingskonsert vind in Engeland (Sevenoaks) plaas op 22 April.

Die volgende groot projek waarop ek wil fokus is die skryf van ‘n boek. Ek skryf oor die pyn en trauma na die dood van my kind maar ook die hoop en genesing wat in Jesus Christus gevind word. Ek wil hierdie genade-boodskap uitbasuin deur my storie te vertel en vir ander hoop te gee.

Wees op die uitkyk hierdie Vrydag 14 April, vir Anne-Marie van Eeden se nuwe album Optelwoorde wat beskikbaar gaan wees op jou gunsteling musiekstroming platform.

Anne-Marie van Eeden – Optelwoorde, beskikbaar 14 April 2023 op alle digitale platforms.

Leave a Reply

error: Content is protected !!