Die aantreklike blondekop sangeres van Durbanville in die Weskaap, Therené Nel, beskryf die liefde as “iets wat nie moed opgee nie.”

Dit is ook die boodskap wat sy met haar eerste enkelsnit, Snoei My tot Liefde, wil oordra.

Dié snit, wat pas uitgereik is, is ’n smeekgebed wat sterk gospelgedrewe is, maar terselfdertyd herinner die snit jou aan Gebed, van Koos du Plessis.  Om die rede kan ’n mens verseker weet dat dit goed deur die sekulêre mark ontvang gaan word.

Snoei My tot Liefde raak ’n universele onderwerp aan waarop almal se huwelike of verhoudings gebou kan word; liefde moet nie selfsugtig wees nie, en nie rekord hou van die seer nie.

Therené is die ma van vier volwasse dogters en het self haar sarsie liefdespyn ervaar nadat haar vorige man, haar sowat twaalf jaar gelede verlaat het.

Dié traumatiese gebeurtenis in haar lewe het haar genoop om met “ander oë na haarself te kyk.” Sy het gedurende dáárdie tydperk van haar lewe, ’n eerlike en egte verhouding met die Here gehad.

Alhoewel sy ’n gekwalifiseerde remediërende onderwyser is, wat onder meer gebaretaal bemeester het, het sy na ‘n paar jare in die onderwys besluit om haar passie en talente te volg en op haar musiek- en verhoogloopbaan te fokus.

Therené het vining naam gemaak op die Kaapse verhoë in verskeie produksies.  Sy het haar liefde vir die verhoog en kinders gekombineer en Bravehearts, ‘n kinderproduksie op die planke gebring, wat jaarliks honderde gesinne gelok het. Sy het die teks geskryf en ook die produksie vervaardig in samewerking met haar kerk.

Sy het begin gesig wys op televisie-advertensies, en was selfs ’n veldaanbieder vir ’n leefstylprogram op kykNET.   Sy was ook deel van haar kerk se lofprysing en aanbiddings span. “As tiener het ek gesukkel met ‘n swak selfbeeld, maar op hierdie stadium het ek na myself begin kyk deur God se oë en met ‘n wonderlike proses van selfaanvaarding begin.  Min het ek toe geweet dat my huweliksmaat en die pa van my kinders my sou verlaat,” vertel sy. Haar loopbaan het ‘n paar interessante draaie gemaak en sy het onder andere ‘n boetiek oopgemaak en haar eie klerereeks begin.

Uit haar grootste smart is ’n liedjie, Reduce me to love, gebore.  Dit is gegrond op 1 Korintiërs 13.  Sy het die bekende Bybelse hoofstuk bestudeer en besef dat God wou hê dat sy moes verander; “slegs as ons Hom toelaat om ons te snoei tot liefde kan ons werklik lief hê.”

Tydens die jaar wat die Covid-19 pandemie sy kloue in die wêreld geslaan het, het sy begin droom om ’n vollengte album op te neem. Sy het dié liedjie vertaal en die eindresultaat was Snoei My tot Liefde, wat perfek by haar suikersoetsopraan stem pas.

“Toe ek dit in my moedertaal sing, moes ek met myself eerlik wees – ek het besef dat ek gedurende my vorige huwelik my man se liefde en aandag gesoek het. Ek wou hê dat God my moes verander sodat my man my weer kon lief hê – maar dit was nooit God se hart nie”.

Therené beskryf haarself as ’n kreatiewe spanspeler wat dikwels op emosionele inteligensie staatmaak, aanpasbaar is en take met integriteit aanpak.

Ons kan almal iets uit Snoei My tot Liefde leer.

Soos Therené in die koorgedeelte sing: “… daar moet meer wees as net dit, so ek lees en ek bid…stroop my van alles wat nie deel is van U. Snoei my tot liefde, meer van U en minder van my”

Snoei My tot Liefde is beskikbaar op alle digitale platforms.

Leave a Reply

error: Content is protected !!