Janco Dreyer, die 22-jarige sanger uit Bloemfontein met sy unieke stem, begin die jaar 2022 op ‘n hoë noot, en dit met sy nuwe enkelsnit, Ek Sal Dit Onthou.

Die snit is gemik op mense wat hulself kan vereenselwig met hartbreek – waaroor Janco juis ook oor sing in die lied. Wanneer Janco terugdink aan die gebeurtenis wat die liedjie inspireer het – ‘n gebroke hart as gevolg van ‘n verhouding wat tot einde gekom het ‘n paar jaar terug – onthou hy hoe hy stomgeslaan was op daardie oomblik en dat hy eenvoudig geen woorde gehad het nie.

Hierdie idee word saamgevat in die lirieke van sy enkelsnit.

Deur die pyn en hartseer van daardie moeilike tyd onthou hy egter steeds die goeie tye. Met Ek Sal Dit Onthou wil Janco dus sy gehoor aanmoedig om vas te hou aan die idee dat mens steeds in ‘n moeilike tyd aan die positiewe en die goeie tye moet dink en seker maak dat mens nie te lank vasklou aan wat jou gebreek het nie.

Met Ek Sal Dit Onthou hoop Janco dat die publiek die ware en rou emosie agter die snit sal kan raaksien en voel. Janco maak gebruik van sy liedjieskryftalente om die swaarkry wat die lewe bring, die hoof te bied. Hierdie enkelsnit is geen uitsondering op hierdie stelling nie en is ook deur hierdie talentvolle sanger self geskryf.

Luister hier:

Wanneer Janco gevra word oor sy planne vir die toekoms, is sy antwoord daarop vinnig en selfversekerd – hy wil net musiek maak. Hy beplan om sy lewe om sy musiek te baseer en hoop om die harte van sy huidige, asook toekomstige luisteraars te bereik en hul perspektief oor musiek te verander.

Die Grey College-alumni het in 2018 aan die skool matrikuleer en het daarna groot planne vir sy studentelewe gehad, maar soos met vele ander mense, het die Covid-19 pandemie in 2020 al sy planne vir eers op ys gesit. Janco het wel nie op homself laat wag nie. Alhoewel die lewe dalk nie heeltemal volgens sy eie planne verloop het nie, het hy homself steeds in sy musiek verdiep en homself as kunstenaar en musikant verbeter.

In sy vrye tyd luister Janco graag na Queen, Elvis Presley en hou ook baie van enige musiek in die genre van Pop-Rock. ’n Plaaslike kunstenaar met wie hy graag in die toekoms nog sal wil werk, is Nicholis Louw. Janco se toekomstige vrystellings sal ook meestal in die voorheen genoemde Pop-Rock genre wees en hy beplan ook om die voete van sy luisteraars aan die beweeg te hou met sy opkomende musiek wat vir hierdie jaar nog vrygestel gaan word.

Ek Sal Dit Onthou is nou beskikbaar op alle digitale stroomplatforms en ‘n musiekvideo vir die snit sal ook binnekort vrygestel word.
Hou hierdie veelsydige musikant dop; hier kom nog groot dinge!

Ek Sal Dit Onthou is beskikbaar op alle digitale platforms.

Leave a Reply

error: Content is protected !!