Ná die suksesvolle vrystellings van solo-enkelsnitte in die vorige jaar is Emil Paul en Anya Swart terug met ‘n duet-enkelsnit, getiteld Noem My ‘n Vriend. Hierdie twee powerhouse-sangers skop dus hul musiekjaar op ‘n hoë noot af met hierdie liedjie wat beloof om elke paar voete op die dansvloer te hê.
Noem My ‘n Vriend vertel die verhaal van ‘n liefde tussen twee vriende wat eenvoudig nie die openbare lig wil sien nie. Dit is een van daardie vrae waarmee baie vriendskappe, waar daar meer gevoelens betrokke is, kan verband hou, waar mens moet vra “is ons vriende, of is ons meer as dit?”. Maar op die ou end, soos met baie vriende-met-voordele-stories, is dit eenvoudig in hierdie geval nie bedoel om te wees nie.
Die enkelsnit is geskryf en vervaardig deur Emil, met hulp van ADAM se Hugo Ludik vir die vermenging van die liedjie. Die liedjie is toe laastens ook bemeester deur niemand anders nie as mastering-reus in die Afrikaanse musiekbedryf, Dirk van Niekerk.
Noem My ‘n Vriend is ‘n opgewekte en energieke enkelsnit in die genre van pop-rock. Dit beloof om enige en elke gehoor te lok – of dit nou in die agtergrond by ‘n braai gespeel word of terwyl die lied voete besig hou op ‘n dansvloer. Die liriese betekenis van die lied het ook ‘n boodskap van “geen spyt”. Dit moedig ‘n mens aan om altyd steeds jou alles te gee en daarvoor te gaan, al beteken dit dat dit dalk nie op die ou end sal uitwerk nie. Alhoewel Emil en Anya albei weet dat sommige luisteraars dalk huiwerig sal wees oor die betekenis van die liedjie, hoop en glo hulle steeds dat hul gehoor die enkelsnit en sy musiekvideo met ope arms sal ontvang, en dit dadelik by hul speellys sal voeg.
Emil is sedert 2017 aktief in die musiekbedryf nadat hy sy eerste enkelsnit, getiteld “Elke Noot”, vrygestel het. Hy het egter erkenning verwerf deur sy deelname aan die plaaslike TV-program “The Voice SA”. Sy weergawe van Shawn Mendes se “In My Blood” het Francois van Coke beïndruk, wat sy stoel omgedraai het, en Emil as deel van #TeamVanCoke aangeneem het. Sedertdien het Emil die voorreg gehad om ‘n album en verskeie ander enkelsnitte vry te stel. Nog ‘n belangrike oomblik in sy loopbaan was sy onlangse oudisies vir die plaaslike TV-program, “Die Kontrak”. Sy acapella-weergawe van Theuns Jordaan se “Soos Bloed” – met slegs lae van Emil se stem as instrumentasie – het meer as 170 000 kykervaringe oor al sy sosiale media-platforms bereik. Alhoewel hy nie as deelnemer aan die program gekies is nie, is hy nog steeds baie trots daarop dat een van die duette op sy vorige album saam met niemand anders as die wenner van daardie jaar se program, Samantha Leonard, was!
Alhoewel Anya Swart ‘n relatiewe nuweling in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf is, staan haar vokale vermoëns vir niemand terug nie. Sy het in die vorige jaar ’n platekontrak gesluit met Coleske Artist – produksiehuis vir die land se grootste Afrikaanse kunstenaars soos Bobby van Jaarsveld en Demi Lee Moore – wat haar op haar beurt toegelaat het om in Februarie verlede jaar haar debuut-enkelsnit, getiteld “Champagne Shooters” vry te stel. Hierdie enkelsnit het groot sukses behaal deur om op die Apple Music Top 200-trefferlyste te verskyn, met haar musiekvideo vir die enkelsnit wat ook duisende kyke bereik het. Na aanleiding van hierdie sukses het sy besluit om ‘n nuwe avontuur as ‘n onafhanklike kunstenaar aan te pak, met verskeie oorspronklike enkelsnitte wat reeds binnekort opgestel is vir vrystelling. Benewens haar loopbaan as popkunstenaar, is Anya ook opgelei as klassieke sangeres. Sy het haar graad 8, die hoogste vlak beskikbaar, in Royal Schools as sanger voltooi. Nogal die prestasie!
Interessant genoeg was Noem My ‘n Vriend vir ‘n heel ander doel bedoel, toe dit ‘n hele jaar gelede geskryf is. Emil en Anya het beplan om ‘n Afrikaanse duo-groep te stig, wat “PlusMinus” sou heet. Hierdie enkelsnit is as hul eerste enkelsnit saam as die duo geskryf, maar die twee kunstenaars het eerder besluit om hierdie idee te laat vaar, en besluit om eerder by hul solo-loopbane te hou – maar natuurlik steeds toe te laat dat hierdie enkelsnit die lig sien. Dit is egter interessant om te dink wat die moontlikhede sou gewees het as hierdie duo gevorm sou word!
Die musiekvideo vir Noem My ‘n Vriend, wat nou ook vrygestel word, is verfilm deur Gerduan Kemp Photo & Film. Die musiekvideo beeld ‘n visuele storie uit wat beslis ‘n eerste vir musiekvideo’s in Afrikaans is, waarvan die storielyn ‘n pragtige deur insluit wat deur Hardwood Doors geborg is. Luisteraars sal ook kykers moet word, om te sien presies wat hierdie musiekvideo behels en wat dit so interessant maak!
Kyk die musiekvideo hier:
Hou hierdie twee talentvolle kunstenaars dop, jy sal beslis hul name en musiek nog baie hoor in die toekoms.
Noem My ‘n Vriend is beskikbaar op alle digitale platforms.