Musiekindaba gaan die ganse musiekbedryf byeen bring om koppe bymekaar te sit, verhoudinge te bevorder, loopbane te bou, te leer, inligting te deel en die wonderwêreld van musiek te vier.
“Die konsep vir die Musiekindaba het twee jaar gelede gekom ná gesprekke met rolspelers in die musiekbedryf,” sê Karen Meiring, Direkteur van die Musiekindaba wat in Desember in Stellenbosch gehou word. “Dit is `n uitstekende tyd om die bedryf en al sy rolspelers en belanghebbendes bymekaar te bring vir opwindende toekomsgerigte gesprekke waar daar onder meer oor nuwe tendense en verskeie ander belangrike onderwerpe gepraat gaan word. Musiek is deel van ons lewe en ons sien uit daarna om saam planne te beraam en ’n blink toekoms vir musiek in Suid-Afrika te verseker.”
Van die hoogtepunte by die Musiekindaba is EasyEquities Encore! ‘n Informele gespreksreeks met geliefde kunstenaars, soos Anton Goosen, Coenie de Villiers, Amanda Strydom, Kurt Darren, Mango Groove, Valiant Swart en Johan Stemmet.
Presto-Presto bring dinamiese interaktiewe gesprekke rondom belangrike kwessies en oplossings. Kunstenaars, Platemaatskappye, Radiostasies, Invorderingsagentskappe, Media, en verskeie Digitale Platforms kom bymekaar. Pierre Greeff, Danie de Toit, Francois van Coke,Wynand Muburgh en Loki Rothman kom gesels oor die ‘bestuur van onafhanklike kunstenaars’. Bok Radio, Jacarandafm, Grootfm en Paarlfm kom praat oor ‘Afrikaanse musiek op radio’. Verdere fokuspunte sluit in: die stand van Afrikaanse musiek, musiekregte, nuutste tendense in die bemarking van kunstenaars, finansiële standvastigheid, musiekteater en nog vele meer.
Deel van die opwindende program, is Forte waar kundiges op verskeie vakgebiede in die musieklandskap praat. Kyk onder andere uit vir David Kramer wat gaan gesels oor die potensiaal van ‘n suksesvolle oorspronklike musiekblyspel en Prof. Johan Fourie, skrywer van Our Long Walk to Economic Freedom, praat oor musiek op die lang pad na ekonomiese vryheid.
G-Sleutel is ‘n reeks werkswinkels waar spesialis wysheid en ervaring in persoon gedeel word. Om net ’n paar te noem: suksesvolle kunstenaars soos Emo Adams en LUNA gaan sessies oor optredes aanbied, SAMRO en Spotify gaan hulle geheime deel, Heidi Edeling gaan jou alles vertel van die wat en die hoe van ’n musiekloopbaan en by Magriet Groenewald gaan jy leer hoe om jou loopbaan op sosiale media te laat groei.
Hoe werk registrasie vir aanbiedinge?
Gaan na www.musiekindaba.co.za om te registreer om die Forte, Presto Presto, Easy Equities Encore en G-Sleutel sessies van jou keuse by te woon. Die registrasie fooi is R400, en vir kunstenaars is ‘n spesiale prys van slegs R200 beding. Sodra jy die registrasie-proses voltooi het, kan jy gaan kies watter van die aanbiedinge op die program jy wil bywoon. Jou eie feesprogram word volgens jou keuses elektronies gelaai en jy kan jou persoonlike Musiekindaba program-kaart by die Behrens Foyer by die Konservatorium hoek van Victoria en Neethlingstraat in Stellenbosch gaan afhaal tydens die Musiekindaba week.
Daar is ook `n opwindende Musiekspyskaart! Van die grootste name in Afrikaanse musiek is in verskeie produksies te sien – Hiervoor kom uiteenlopende kunstenaars van regoor die land bymekaar vir ’n uitsonderlike reeks produksies om die diversiteit in kultuur en talent van ons beste gevestigde en opkomende kunstenaars te vier. Van Amanda Strydom tot Anton Goosen, Coenie de Villiers tot Dizu Plaatjies, van Jack Parow tot Early B, Arno Carstens. Neil Sandilands en Sima Mashazi. Ja, al hierdie sterre en vele ander gaan in konserte optree wat spesiaal vir Musiekindaba vervaardig word. Kaartjies vir die Musiekspyskaart moet apart bespreek word. Meer inligting en om te bespreek gaan na www.musiekindaba.co.za
Vertoonvenster- en foyer-konserte sal aangebied word om ’n verhoog aan nuwe talent te gee. Daar is ook ’n Straatfees op Vrydag 2 Desember waar die hart van Stellenbosch gevul gaan word met musiek, spys en drank. Tydens dié jolige safari gaan Musiekindaba-gangers verskeie kunstenaars in en om Kerkstraat sien optree, met restaurante in die area wat vir genoeg lafenis sal sorg.
Gaan na www.musiekindaba.co.za om te registreer en die volle oorsig van die program te kry.
Registrasie op die webtuiste: www.musiekindaba.co.za
Die Musiekindaba, in samewerking met kykNET, Netwerk24, Huisgenoot, Die Burger, Beeld, Volksblad, Kuier, Toyota, EasyEquities, Distell, Toyota US Woordfees, Suidoosterfees, Multi-media, Ontbytsake en Lift word van 30 November tot 3 Desember 2022 in Stellenbosch aangebied.