Spits jou ore, want HunTer Leite se nuutste enkelsnit, Hoogtevrees, is beslis nie iets wat jy wil mis nie. Die liedjie is pas vrygestel en reg om die radiogolwe oor te neem. Dit spog met ’n strelende kontemporêre klank en diep lirieke, uit die pen van Rudi Claase, waarby luisteraars van alle ouderdomme sal aanklank vind.

Hoogtevrees is ’n baie persoonlike liedjie wat gaan oor die vrees om alleen te wees in liefde en om iemand te vra om by jou te bly – deur goeie en slegte tye.

Ek het ’n baie spesiale persoon ontmoet en hom gevra: ‘Belowe dat jy by my sal bly’. Die liedjie gaan oor daardie eerste gewaarwording van vrees… wanneer jou keel letterlik wil toetrek daarvan,” deel sy oor hierdie lied wat haar fluweelstem soos ’n handskoen pas. “Dis vir my baie spesiaal, omdat ek al self deur dit is en dit soms steeds ervaar. Ek raak baie emosioneel wanneer ek dit sing, omdat dit voel asof ek vir die eerste keer werklik uiting kan gee aan my gevoelens.

Die snit word gekomplementeer deur ’n ewe hartroerende musiekvideo wat deur Soundz of HunTer Studio in Magaliesburg en Hartebeespoortdam verfilm is. “Die video beeld uit dat daar verskillende vrese is en verskillende tonele word gebruik om dit oor te dra. My doel is om mense te motiveer om nie in sak en as te gaan sit wanneer dit voel of vrees jou wil oorweldig nie, want almal het vrese en dit kan oorkom word,” vertel die sangeres. “Dis ’n hartsvideo wat seer en kwesbaarheid, asook die oorwinning van vrees uitbeeld.”

Hoogtevrees is die kunstenaar se vyfde Afrikaanse enkelsnit en volg in die suksesvolle voetspore van vorige treffers soos Toe Laat My In, Gee Nooit Op Gee Nooit in en Halfway Around The World wat bo-aan die treffersparades van verskeie radiostasies gekuier het en waarvan die musiekvideo’s ook gereeld op die kassie te sien was.

HunTer is ’n veelsydige en talentvolle sanger en liedjieskrywer wat nog altyd versot was op musiek en gehore begin vermaak het op die ouderdom van vyftien, nadat sy ’n openingsvertoning vir Manuel Escorcio gedoen het. As kind was sy nie net lief daarvoor om aan karaoke te sing nie, maar ook aan Eisteddfods en ander kompetisies deel te neem.

Hierdie diereliefhebber, wat op ’n kleinhoewe in Benoni groot geword het, het oor die jare verskeie hoogtepunte in haar loopbaan bereik en verskeie plaaslike en internasionale toekennings ingepalm.

Die sanger verklap dat sy mal is daaroor om na betekenisvolle musiek te luister en dat sy groot groot bewondering het vir ’n verskeidenheid internasionale musikante soos Céline Dion, Toni Braxton en Cher, terwyl sy plaaslik graag saam met name soos Karen Zoid en Sarah Theron sou wou werk.

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, werk sy as radio-omroeper en musiekregisseurs en is sy besig om Grafologie te studeer. Sy is ook besig om te werk aan haar nuwe Afrikaanse album en om opnames te doen saam met internasionale kunstenaars in Amerika, Ierland en Meksiko.

Musiek is my bloedgroep,” sê HunTer en daarom maak sy dit deel van elke aspek van haar lewe. Hoogtevrees gaan nie net hoop gee vir diegene wat dit nodig het nie, maar is ook die begin van ’n baie belowende nuwe hoofstuk in hierdie talentvolle kunstenaar se musiekloopbaan.

Hoogtevrees is beskikbaar op alle digitale platforms.

Sosiale Media: Facebook | Instagram

Leave a Reply

error: Content is protected !!