As jy lief is vir die plaaslewe sal jy beslis aanklank vind by Marisa se heel eerste enkelsnit, Plaasmeisiekind.
Hierdie rustige kontemporêre liedjie, uit haar eie pen, stel dié talentvolle sangeres aan die publiek voor en vertel hoe die plaaslewe haar laat voel. “Ek het op ’n kleinhoewe grootgeword wat aan ’n plaas gegrens het. Hier het ons kettie geskiet, kleilat gespeel, grotte verken, vrugte van die boom af geëet en fiets gery tot die son sak. Dit was ons stukkie hemel,” verduidelik dié borrelende sangeres en liedjieskrywer.
Volgens die musikant het sy en haar man onlangs weer ’n stukkie grond buite die dorp gekoop en is sy in haar element met die plaasgrond onder haar voete en dis wat Plaasmeisiekind se lirieke geïnspireer het.
“Ek dink mense hou van iets wat eg en opreg is. Plaasmeisiekind is eg aan wie ek is, die lied is gebore uit my hart! Dit gaan mense ’n geleentheid gee om nie net te sien wie ek is nie, maar eerstehands die plaasmeisiekind in my te beleef. Buiten vir hierdie enkelsnit, is daar vele meer wat op julle wag. Liedjies wat deur God geïnspireerd is en wat moed en hoop bring. Ek kan nie wag om dit met julle te deel nie,” sê sy.
Die musiekvideo van hierdie pragtige snit is op vriende se wildplaas in Derby verfilm deur Johan van Vuuren van J&N Photography and Films en is geïnspireer deur haar eie kinderjare. “Ons is vyf kinders en drie van ons se ouderdomme is naby mekaar en ons het altyd alles saam gedoen. Ek wou buite wees saam met my boeties en het my rokkies ver weg gebêre, sodat hulle nooit kon sê dat ek té dogtertjie was om met hulle te speel nie,” vertel sy met ’n glimlag.
“Plaasmeisiekind is ’n lied wat terugkyk na oomblikke waar tyd nie bestaan het nie, waar die eenvoud van die lewe nog kosbaar was. Toe pret min geld gekos en dit nog veilig was om buite jou tuiste se mure en hekke te speel.
Marisa is ’n veelsydige en talentvolle kunstenaar wat al van kleins af versot is op musiek en gereeld, haarborsel in die hand, saam met haar gunsteling-sangers gesing het.
Sy het egter eers twee jaar terug professioneel begin musiek maak en verklap dat sy dit baie geniet het om tyd in die ateljee te spandeer om haar musiek op te neem.
Buiten vir die kerk se orkes, het sy ook verskeie ander optredes by funksies en ander geleenthede op haar kerfstok.
Om mense te bemoedig is die hoof-inspirasie agter haar lirieke en daarom vind sy self ook aanklank by musikante wat betekenisvolle musiek maak soos Riana Nel, Steve Hofmeyr, Taryn Lamb, Riaan Benadé, Demi Lee Moore en Theuns Jordaan. Sy sou ook nog graag ’n lekker plaasliedjie saam met Appel wou opneem.
Wanneer sy nie op die verhoog is nie, is sy ’n voltydse tuisteskepper, vrou en ma van twee, wat lief is vir die Here en dit geniet om ’n veilige en liefdevolle hawe vir haar gesin te skep. Tans is sy ook besig om te werk aan haar debuut-album saam met die vervaardiger, Tjaart van der Walt.
Die musiekbedryf het haar geleer om in haarself te glo, saam met beginselvaste mense te werk en altyd haar beste te doen.
Spits jou ore, want Plaasmeisiekind, is beslis nie iets wat jy wil mis nie. Dit spog met ’n strelende kontemporêre klank en eerlike lirieke waarby die meeste luisteraars sal aanklank vind.
“Ek glo met my hele hart dat mense, wie se harte soos myne klop, met die lirieke sal kan vereenselwig omdat hulle trotse Afrikaner-kinders is, net soos ek. Selfs as jy nie van die platteland af kom nie, sal hierdie snit jou laat voel asof jy saam met my daar is,” sluit sy af.
Plaasmeisiekind is nou beskikbaar op alle digitale platforms.
