Lion Jay -Lion Jay -

Dié maand word ondersteuners van die (brullende) singende leeu, Lion Jay, sommer met twee enkelsnitte, wat gesamentlik uitgereik word, bederf.

Met die snitte, The Way Back To Your Heart en My Country Song wyk hy ook nie van sy wenresep af nie: Baldadige kontemporêre country-rock wat nogal sterk ooreenkomste met die rou-rock country van Neil Diamond en Creedence Clearwater Revival toon.

Beide die snitte het op sy derde album Die Hart Van ’n Leeu verskyn, maar is nou herverpak en word as enkelsnitte uitgereik.

Lion Jay, wat eers op 50-jarige ouderdom sy toetrede tot die plaaslike musiekbedryf gemaak het, se eerste paar enkelsnitte is verlede jaar uitstekende deur radiostasies ontvang.

Musiekkritici het hom veral geloof vir die eerlikheid waarmee hy sy lirieke neerpen. Dit is ook die geval met My Country Song wat die eenvoudige verhaal vertel van ’n country-sanger wat moeiteloos met woorde en melodieë kan omgaan, en met sy musiek troos aan die mens bied.

Lion sing: Music is just part of me…” Woorde wat dié sanger se lewe goed opsom – sonder sy musiek is hy soos ’n leeu sonder sy prooi, of ’n rugbyspeler sonder sy bal (Lion het juis in sy jeug op die sportveld uitgedraf.)

My Country Song is ’n lekker vastrap-langarmtreffer wat die skoffel weer terug in die voete gaan sit. Die natuurlik twang waarmee Lion sing, maak die liedjie nog meer outentiek en jy kan jouself maklik verbeeld dat jy iewers in ’n kuierkroeg in Tennessee sit.

Daarteenoor is The Way Back To Your Heart nie so ’n vinnige vastrap nie, maar ’n hou-my-styf-vas country-ballade wat oor die liefde handel.

Die snit is deur die bekroonde sanger en skrywer Dennis East geskryf. Dennis se styl is alombekend en dit kan nie aldag maklik wees vir enige sanger om reg aan Dennis se lirieke te geskied nie.

Tog slaag Lion daarin om die liefdeslied, wat handel oor die verganklikheid van liefde, en hoe om die pad terug na die hart te vind, goed te vertolk. Sy stem is pasknap vir die lirieke en die melodie.

Dennis en Lion het al voorheen saamgewerk en die eindresultaat is altyd ’n treffer….

Beide liedjies is tegnies goed versorg en beloof om tydens die wintersmaande kleur in die grys triestigheid te bring.

The Way Back To Your Heart en My Country Song is beskikbaar op Die Hart van ‘n Leeu en alle digitale platforms.

Leave a Reply

error: Content is protected !!