Johan Mossel Fourie wat beter bekendstaan as JMF, is ‘n sanger, liedjieskrywer en vervaardiger wat nou die Kaap sy tuiste noem. JMF spot dat hy darem vir ‘n hele paar Currie Beker kan skree, na hy gebore is in Virginia, Vrystaat, het sy gesin Mosselbaai toe verhuis toe hy 16 was en na een jaar het hulle weer verhuis na Potchefstroom.

Terwyl hy meestal fokus op Punk-Rock en Rock weergawes van Afrikaanse liedjies, is hy ‘n veelsydige kunstenaar wat sy eie liedjies skryf en vervaardig. JMF se musiek genre fokus sterk op Rock en Punk-Rock en soos hy dit stel, partykeer is dit bietjie harder as Rock. Hy is definitief nie bang om ‘n sterk woord of twee, of ‘n slinkse lirieke te gebruik om daardie dubbelsinnige betekenis in weg te steek in ‘n liedjie nie.

JMF se loopbaan is besig om vlam te vat, met Happy As Ek Dronk is en Baie Dankie Susanna Marais wat onlangs posisies op die Plectrum en Reputasie trefferlyste beklee het. Hy het al ‘n totaal van sewentien oorspronklike liedjies digitaal vrygestel.

Dis baie tong-in-die-kies Punk-Rock liedjies wat gaan oor, wel, Punk-Rock dinge. Soos van dronk wees tot liefde tot puberteit tot ‘n sexy dame tot ‘n dominatrix ens. Ek het ook 3 volumes Hou Dit Heavy digitaal vrygestel waar ek populêre Afrikaanse liedjies herverwerk het in Rock/ Punk-Rock styl. Ongelukkig moes ek dit van die platforms afhaal want sjoe, lisensiëring is maar ‘n duur ding.”

Hoe eindig mens in die musiekbedryf op? JMF vertel dat die eerste keer wat hy agter ‘n mikrofoon ingeklim het om agtergrond stemme te sing vir sy eerste band toe hy slegs 16 was, het hy verlief geraak op dit en vandaar wou hy net musiek maak. Hy vertel daar is so baie musiek invloede en rolmodelle maar as hy moet noem, dan sal dit sy ouers, The Beatles, Dire Straits, Blink 182, Leo Moracchioli van Frog Leap (groot invloed), Machine Head en The Travelling Wilburys, hy raak stil en sê dat as hy almal moet noem gaan ons tot volgende jaar hier sit. Sy grootste skryf invloede is The Beatles wat ‘n eenvoudige melodie met woorde kan skryf, wat so catchy is en heeldag in jou kop maal. En dan ook Mark Knopfler wat se kitaarspel besonders is.

Al hoewel hy nog nie enige lewendige optredes gehad het nie, sou KKNK in Oudtshoorn verlede jaar sy eerste optrede gewees het. “Ek sou laasjaar (2020) my heel eerste paar optredes gehad het tydens die KKNK in Oudtshoorn, maar as gevolg van die pandemie was als gekanselleer. Ek was baie  hartseer daaroor, maar ek sal graag wil optree saam ‘n band.

Sy tong in die kies persoonlikheid verbloem ‘n ou wat ‘n dieper kant het van omgee en ander kunstenaars help. Met hierdie ingedagte sê JMF dat as hy nie musiek gemaak het nie sou hy heel moontlik in sielkunde gegaan het. “Mense fassineer my veral die keuses wat hulle maak en die maniere hoe hulle hul daaglikse lewe en take aanpak.”

JMF - Reputasie
JMF. Foto: Verskaf

Terwyl baie mense musikante se passie vir musiek as ‘n stokperdjie sien, is dit presies wat JMF sal wil verander van die musiek industrie. “Ek sou graag mense se persepsie van kuns as ‘stokperdjie’ na ‘loopbaan’ wil verander. So dit gaan vir my meer oor die ondersteuners.  Nie dat ek sê almal is so nie. Dankie tog daar is mense daarbuite wat verstaan dat vermaak ook ‘n loopbaan is, maar ons het meer mense nodig wat dit ten volle verstaan.”

Wat is JMF se raad aan nuwe kunstenaars: “Ek deel altyd hierdie raad wat my Ma nog vir my gegee het: Dit gaan nie oor wat jy nie het nie, dit gaan oor wat jy kan doen met wat jy het.”

JMF is dalk nie heeltemal ‘n nuweling in die musiekbedryf nie, maar hy is verseker ‘n vars bries wat nuwe asem of altans note in die bedryf in blaas.

Al JMF se musiek is beskikbaar op digitale platforms.

Sosiale Media: Facebook | Instagram | Twitter | Spotify | YouTube

Leave a Reply

error: Content is protected !!