Imke het in 2020 haar pop treffer, Dans Tot Die Son Opkom bekendgestel en nou is sy terug met ‘n sielvolle kontemporêre snit, Sterker As.
“Wanneer ek ’n liedjie skryf, begin ek gewoonlik eers by die melodie. Die klavier praat met my; daarom is dit vir my geriefliker om dan só aan my liedjie te skaaf. Iewers in my gedagtes bestaan die tema van die liedjie dan reeds. In hierdie geval, Sterker As.”
Die gedagte agter Sterker As is dat elkeen dit self moet voltooi, byvoorbeeld: Ek is sterker as my siekte, die verhouding waarin ek is, my omstandighede wat my terughou. Jy is sterker as jou heel grootste vrees, die berg wat voor jou lê, jou toekoms wat jou bangmaak, die spoke van jou verlede.
Gideon Botes het die liedjie vervaardig en Christiaan Baartman was by ’n gedeelte van die afronding van die liedjie betrek.
Imke wil met hierdie enkelsnit mense inspireer om, ten spyte van hulle omstandighede vir hulleself op te staan. “Ek wil die boodskap oordra dat elkeen vir sy eie geluk verantwoordelik is,” vertel sy.
Vind jouself weer! Hoop op dit wat kom! Jy is sterk genoeg! Wanneer jy dít glo, sal jy jou toekoms op die horison sien.
Sterkter As is beskikbaar op alle digitale platforms.