Die vakansieseisoen is om die draai en jy kan solank jou dansskoene afstof, want Valeska Muller se nuutste enkelsnit nooi jou uit om jou sorge opsy te skuif en jouself te geniet.

Hou Jou Mond En Dans is ’n opgewekte, tong-in-die-kies-danssnit wat die liefde vanuit ’n vars perspektief benader. Dis ’n spanpoging deur die sangeres en Tertius Jacobs, wat spog met ’n verfrissende internasionale klank en selfs die mees kritiese oor sal beïndruk.

“Hierdie lied gaan oor ’n outjie wat sy oog het op my, maar hy is ongelooflik skaam en weet nie hoe om met my te praat nie. Hy sê simpel goed en maak ’n gek van homself met sy irriterende ‘pick-up lines’ wat my nie aanstaan nie,” verduidelik sangeres. “Toe sê ek vir hom hy moet eerder sy mond hou en net met my dans, want dit is die beste manier om my hart te wen.”

Volgens Valeska sal Afrikaners, wat oor die algemeen daarvan hou om te dans – veral na grendeltyd en met die vakansie wat op pad is – hierdie snit baie geniet. “Die meeste liefdesliedjies het dieselfde storie en ek het besluit om hierdie een ’n ander aanslag te gee. Daar is altyd iemand wat my aandag probeer trek wanneer ek saam met my vriendinne uitgaan, maar eintlik wil ons net dans en onsself geniet,” deel sy. “Enigiemand wat lief is vir dans en samesyn, sal van die liedjie hou. Nadat ons vir so lank in afsondering was, is dit nou weer tyd om te leef en die lewe te geniet.”

Hou Jou Mond En Dans volg in die voetspore van Daar Waar Ons Staan en Naby My Naby Jou, wat uitstekend ontvang is en vir weke lank op die treffersparades van verskeie radiostasies gepronk het. Verskeie van haar musiekvideo’s, wat deur Saint Nic Media vervaardig is, kan ook steeds op die kassie gesien word.

Al drie snitte vorm, saam met haar vorige treffers: Verlange van Jou, Skyn Jou Liggie Vir My en Verdwaal Saam Met Jou, deel van haar album – My Simfonie – wat hier aanlyn beskikbaar.

Valeska werk al vir negentien jaar in die musiekbedryf en is reeds ’n bekende naam by funksies en feeste regoor die land.

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, bestuur sy haar eie musiekskool – Valeska Muller Vocal Academy (VMVA) – en voel sy bevoorreg om elke dag te kan doen waarvoor sy lief is.

Valeska Muller se musiek is vinnig besig om ’n onmisbare bestanddeel in die Afrikaanse musiekbedryf te word.  Hou Jou Mond En Dansgaan nie net ’n treffer op die dansbaan en treffersparades wees nie, maar is – net soos haar vorige enkelsnitte – ’n bewys dat sy nog diep spore gaan trap in plaaslike musiekharte.

Sosiale Media: Facebook | Twitter | Instagram

Leave a Reply

error: Content is protected !!