Die musikant en liedjieskrywer, Hansie Roodt, het ‘n splinternuwe enkelsnit as solokunstenaar vrygestel, getiteld My Wolf. Die liedjie is ‘n hartroerende boodskap aan sy seuntjie, wat hom moet herinner dat hy op groot skouers staan en trots kan wees op sy erfenis. Hansie het die liedjie self geskryf en beskou dit as ‘n kosbare herinnering aan sy ontslape pa, die legendariese kitaarspeler, Hansie Roodt Snr., en sy skoonpa, die geestelike leier, Jannie Pelser.
Hansie was slegs 16 jaar oud toe sy pa gesterf het. Hy beskryf sy skoonpa as ‘n baie bekwame klavierspeler en ‘n mens met een van die mooiste harte in die heelal. Die bloed wat deur sy seuntjie se are vloei, is die bloed van twee enorme ikone, en dit is belangrik vir Hansie dat sy seun hierdie erfenis waardeer en daarop trots kan wees.
Kyk ‘n opsomming van Hansie se eerste solo optrede hier:
Die liedjie, My Wolf, is ‘n alternatiewe Afrikaanse liedjie, wat die hoop, beskerming en trots van ‘n pa vir sy seun beklemtoon. Hansie het self die kitare gespeel vir die liedjie, terwyl sy vrou die harmoniegedeeltes gesing het. Die tromme en baskitaar is regstreeks opgeneem, omdat dit die klank is waarvan Hansie hou. Hy het gekies om nie alles deur ‘n rekenaar te laat doen nie, omdat hy glo mense sal die persoonlike aanraking waardeer.
Vir die musiekvideo van My Wolf het Hansie ou video’s van sy pa en skoonpa gebruik. Die video is geskiet in ‘n leë kerksaal by Rant en Dal Prisma. Die konsep van die video is om Hansie se seuntjie te wys wie sy grootouers was en dat hy kan trots wees op sy erfenis. Die video is geregisseer deur Coert Erasmus en betrokke persone het ingesluit Mike Ramasimong, Charles Geer, Houlson Beauty en Werner Maartens.
Kyk die musiekvideo hier:
Hansie het die afgelope tien jaar as kitaarspeler vir verskeie kunstenaars opgetree en het onlangs sy werk as musiekdirekteur by ‘n kerk beëindig om ‘n sololoopbaan na te jaag. Hy hoop om binnekort die land plat te toer en ‘n volledige album uit te reik.
Hansie se boodskap aan alle pappas, en eintlik enige ouer, is om jou kind te omhels en te laat weet hoe lief jy hom het. Hy glo dat “My Wolf” elke pappa sal bemoedig om dadelik na sy seun te gaan en hom vas te hou, en hom te herinner dat hy ongelooflik lief is vir hom.
