Lillia Lessev-GhostsLillia Lessev-Ghosts

Terwyl die land ’n ongekende tydperk van afsondering moes deurmaak, het die sangsensasie – Lillia Lessev – dit as ’n geleentheid gesien om ’n nuwe liedjie te skryf. Die resultaat is ’n kragtige pop-balade, met die naam Ghost.

Die enkelsnit gaan oor hoe jy – na ’n traumatiese ervaring – steeds geteister kan word deur pynlike herinneringe, omdat dit nie iets is wat jy sommer gou kan afskud en vergeet nie.

Gideon Botes het die liedjie, en al haar vorige vrystellings, vervaardig en meen dat dit van die beste werk is wat hy nóg gedoen het. “Ek het Lillia deur ’n gemeenskaplike kennis ontmoet. Haar sterk stem en volwasse lirieke, het my van die eerste dag af beïndruk en ek beskou alles wat ons sover gedoen het as van my beste werk ooit. Sy het baie talent en ek sien uit daarna om te sien wat die toekoms vir haar inhou.”

Lillia het die snit self geskryf en verklap dat sy uit verskeie bronne inspirasie put vir haar musiek. “Ek kry my inspirasie uit boeke, flieks en my eie lewenservaringe,” sê sy. Ghost is gedeeltelik gebaseer om my eie persoonlike ervaringe, maar ook verweef met ’n storie wat ek graag wil vertel. Ons almal gaan deur dinge wat ons dink nie so erg is nie, maar wanneer dit eers in ons koppe begin rondmaal vergeet ons maklik wie is ons is. Dan word dit eintlik ’n nuwe soort trauma.”

Dié opkomende jong ster meen dat die liedjie sal aanklank vind by gehore van alle ouderdomme, omdat dit tema universeel is. “Ons het almal ervaringe wat ons vir altyd verander. Elkeen van hierdie ervaringe is uniek en onvergeetlik. Ghost lê baie na aan my hart, maak my nou nog emosioneel en is ’n liedjie wat baie natuurlik uit my uit gevloei het toe ek dit geskryf het. Ek glo dat die boodskap ook ander mense sal raak.” Haar nuutste vrystelling, volg in die voetspore van haar vorige snit, Heartless, en sal hopenlik net so goed ontvang word ook.

Lillia is deel van ’n musikale gesin, wat nege-en-twingtig-jaar gelede van Bulgarye na Suid-Afrika verhuis het, en is vandat sy baie klein is doenig in die musiekbedryf.  Sy neem al sangles by Jolanda Becker vandat sy twaalf is, skryf haar eie musiek en speel ook kitaar, klavier en ukulele.

Die liedjieskrywer, wat al meer as dertig liedjies neergepen het, het haar debuut-enkelsnit in 2018 vrygestel. Kort daarna, het sy die kans van ’n leeftyd gekry toe ’n familievriend voorgestel het dat sy inskryf vir ’n kompetisie op Jacaranda FM. Sy het gewen en as deel van die prys, het sy die geleentheid gekry om by Jacaranda Day 2018 op te tree.

Lillia het daarna nog twee enkelsnitte vrygestel – Losing My Mind en Rusted. Laasgenoemde is ingeskryf vir ’n Britse Liedjieskryfkompetisie en het vir haar, in twee kategorieë, ’n plek in die finaal besorg.

Alhoewel COVID-19 die wêreld tot stilstand gebring het, het dit nie vir Lillia gekeer om haar passie uit te leef nie. Sy het die tyd gebruik om te skryf en het ’n hele paar nuwe liedjies wat reg is om vrygestel te word! Dit was ook vir haar lekker om tyd saam met haar gesin te spandeer en nuwe vaardighede aan te leer. “Hierdie was ’n moeilike jaar vir almal! Baie van ons se planne is in die wiele gery, maar inperking het ook nuwe geleenthede geskep en nie net probleme nie. Ons het ook ’n waardevolle les geleer… die lewe kan in ’n oogwink verander en as jy nie bereid is om aan te pas en die beste daarvan te maak nie, gaan jy agterbly. Jy kan vassit in die verlede of vorentoe beweeg en vir jouself nuwe deure oopmaak!”

Wanneer jy haar uitvra oor die toekoms, is sy gretig om nog meer van haar musiek met luisteraars te deel. “Ek is opgewonde oor wat voorlê en sien uit daarna om nog baie musiek vry te stel. My doel is om luisteraars te motiveer om hulle drome te volg. Ons is almal uniek en wil verskillende goed in die lewe hê, maar ons is ook nooit alleen nie en daar is altyd iemand wat jou gevoelens oor iets deel.”

Kyk die liriekvideo hier:

GHOSTS is nou beskikbaar op alle digitale platforms.

Kry dit hier: Spotify | YouTube Music | Apple Music | iTunes | Deezer | Amazon Music

Sosiale Media: Facebook | Instagram | Twitter | Webblad | YouTube

Leave a Reply

error: Content is protected !!