Aanhangers van die talentvolle sanger en liedjieskrywer, Gerduan Kemp, het rede om opgewonde te wees. Ná drie jaar van stilswye keer hy terug met sy nuwe enkelsnit, “Koffie in die Kroeg”. Hierdie Afrikaanse pop-rock-liedjie ondersoek die idee van die regte ding wat op die verkeerde tyd en plek gebeur.
“Ek het een aand saam met vriende uitgegaan en na die gesprekke om my geluister,” vertel Kemp. “Ek het besef dat ek die enigste persoon was wat met ’n beker koffie in die kroeg sit. Dit het my laat dink aan hoe ons dikwels die regte dinge op die verkeerde plekke en tye doen.” Hieruit is die unieke idioom en titel van die liedjie gebore.
Die liedjie se verse was al ’n geruime tyd gereed, maar Kemp het met sy vriend, Emil Paul, saamgewerk om die perfekte woorde vir die koor te vind. Die snit is vervaardig deur Hugo Ludik van Muse Studios, wat bygedra het tot die hoogstaande kwaliteit van die finale produk.
Vir Kemp is hierdie enkelsnit baie betekenisvol. “Om weer na drie jaar iets vry te stel wat so eerlik en rou is, is opwindend maar ook vreesaanjaend,” sê hy. “Hierdie liedjie verteenwoordig ’n nuwe era in my musiekloopbaan, en ek hoop dit vind aanklank by luisteraars.”
’n Musiekvideo wat die tema meesterlik vasvang, is by The Social Grill in Pretoria geskiet. Gerduan self het die video vervaardig, met Abel Knobel agter die kamera. Die video speel af in ’n kroeg en weerspieël die verhaal van wat hy rondom hom sien gebeur. Tonele waarin hy saam met ’n orkes optree, voeg by tot die visuele ervaring van die liedjie.
Kyk die video hier:
“Koffie in die Kroeg” is Kemp se vyfde vrystelling. Sy vorige werk, insluitend sy debuutalbum, het meer as 2 miljoen streams behaal. Sy laaste enkelsnit, “Al Die Woorde”, saam met Tasha, is ook meer as 300,000 keer gestroom en het groot sukses geniet.
Grootgeword in Bloemfontein en tans woonagtig in Pretoria, het Kemp ’n liefde vir musiek van kleins af ontwikkel. Hy het al saam met van die land se grootste kunstenaars opgetree en is bekend vir treffers soos “Sesde Sintuig”, “Langpad na Môre”, en “Jou Tipe Jaloers”.
Benewens sy musiekloopbaan, is Kemp ook ’n bekroonde fotograaf en musiekvideovervaardiger met sy eie besigheid, Gerduan Kemp Photo & Film. Hy het al musiekvideo-projekte vir bekendes soos Elandré en Kurt Darren behartig.
Gerduan Kemp is opgewonde oor die toekoms en voel dat “Koffie in die Kroeg” sy regte pad na die volgende hoofstuk van sy loopbaan verteenwoordig. “Agter die titel lê ’n storie waarmee almal kan identifiseer, omdat ons almal al die regte ding op die verkeerde tyd en plek ervaar het,” sluit hy af. Kemp se nuwe musiek beloof om diep in die harte van sy luisteraars te vind.