Twintig jaar terug het Fokofpolisiekar hul eerste album, As Jy Met Vuur Speel Sal Jy Brand, uitgereik en die landskap van die Afrikaanse kultuur onherroeplik ontwrig.

En nou’s dit ses jaar later vandat hulle hul vorige vollengte album, Selfmedikasie, uitgereik het. Die band het onlangs vyfde vollengte album, Dans Deur Die Donker vry, en dit is die een Fokofpolisiekar album waarvoor hul ondersteuners gewag het.

Hunter Kennedy se beskrywing van Dans deur die donker: “Die album klink soos my mid-90’s CD wallet wat in 2023 internet access gekry het.”

Volgens Wynand Myburgh (baskitaarspeler en bestuurder van die groep) het hierdie album “die perfekte balans van wat al vyf lede van die groep wou hoor op ‘n nuwe Fokofpolisiekar album.’’

En oudergewoonte skroom FPK nie om ongemaklike onderwerpe in die gesig te vat met hierdie album nie. Soos byvoorbeeld met die snit, ‘Die goeie ou dae’: “Ek wou die kognitiewe vooroordeel uitlig van mense wat verlang na die ‘ou’ Suid-Afrika,” vertel die liriekskrywer Hunter Kennedy.

Hunter deel sy beskrywings van die snitte op Dans deur die donker:

  1. Ctrl+Alt+Delete: “Ek wonder soms hoekom die programmeerder van hierdie simulasie nie net Ctrl + Alt + Delete druk nie.”
  2. Ek voel so klein: “Ons mense dink ons is darem baie slim. Maar hoe slim is ons nie?”
  3. Die goeie ou dae: “Jy is hier as gevolg van almal wat voor jou was.”
  4. Word wakker word groot: “Partykeer voel dit vir my of ons die robotte is.”
  5. Breindrein: “Oud word is nie vir sissies nie.”
  6. Dans deur die donker: “Jou keuses is: ineenkrimp van vrees of dans deur die donker.”
  7. Dis nie nodig om my polse te sny nie: “‘n Positiewe uitkyk is kardinaal in die eindtye.”
  8. Fok rond: “Basies die kreet van die mensdom as geheel.”
  9. Goue drol: “Wanneer jy besef materiale belonings is nie jou siel werd nie.”
  10. Die gees van Fokof: “Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde.”
  11. Oorgestimuleer: “Voorkoming is beter as genesing.”
  12. Die einde: “Niemand kon al die einde van die wêreld akkuraat voorspel nie… Nog nie.”

Open in Spotify

  • Reputasie se rating: 68/100
  • Uitstaan liedjies: Dans Deur Die Donker & Ek Voel so Klein

Fokof se skarefinansieringsveldtog

Soos met Selfmedikasie, is die Dans Deur Die Donker album moontlik gemaak deur Die Bende se aanhangers wat items gekoop het vanaf fokof.store of donasies gemaak het. Met Selfmedikasie se skarefinansieringsveldtog was die doel van R500 000 in 2017 verdubbel. En in 2023 is Fokofpolisiekar se verwagtinge weereens oorskry.

Wynand vertel: “Ons wou graag weer die Fokof community betrek by die album creation en daar is geen beter manier as ‘n crowdfunding campaign nie. Die doel was om R250 000 se net profeit in te samel (+/- R650000 gross) en ons het geëindig by R262 350. Dankie aan almal wat betrokke geraak het. Julle weet wie julle is.”

“Jou keuses is: ineenkrimp van vrees of dans deur die donker.” Hunter Kennedy

Fokofpolisiekar {WOORDE 2003 – 2023}

Woorde 2003 – 2023 | Verskaf

Fokofpolisiekar {Woorde 2003 – 2023} is die opgedateerde en voltooide weergawe van al Die Bende se woorde in ‘n digbundel formaat.

20 jaar en 80 liedjies in ‘n 128-bladsy bundel vasgevang.

Die bundel sluit ook die lirieke in vanaf die nuwe album getiteld Dans deur die donker en kan vooraf bestel word by fokof.store.

Leave a Reply

error: Content is protected !!