AfriForum, in samewerking met Inhoud Huis Musiek, is trots om aan te kondig dat hul gewilde verhoogproduksie, Die Gelofte: ‘n Musiekblyspel, vanaf 3 tot 25 September 2022 vir ’n derde keer op die AfriForum Teater-verhoog te sien sal wees.

Hierdie produksie, met musiek en lirieke deur Johan Vorster en Jacomien de Wet en draaiboek en regie deur Jannes Erasmus, is reeds vanaf dag een ’n reuse sukses en na die eerste reeks vertonings in Mei, het hulle besluit om die speelvlak te verleng tot 19 Junie.

Op aanvraag van die publiek betree dié gewilde musiekblyspel, wat die gebeure volg voordat Die Gelofte tydens die Slag van Bloedrivier afgelê is, nou ’n derde speelvlak en kaartjies is steeds besig om soos soetkoek te verkoop.

“Daar was soveel teleurstelling van die publiek wat die produksie nog wou sien en mense wat dit weer wou sien, dat ons besluit het om nog mense die geleentheid te gee om dit te kom kyk in September,” sê Jacomien.

Johan en Jacomien het ook nog lank nie klaar gedroom nie en is reeds besig met die afrondingswerk aan nog ’n musiekblyspel wat vir die nabye toekoms beplan word.

Buiten vir die puik bestuur- en kreatiewe span agter die projek, spog hierdie verhoogstuk ook met ’n sterbelaaide rolverdeling in die musiek- en teaterbedryf waaronder Johan Vorster (trefferliedjieskrywer en vervaardiger van De la Rey, Pa en Seun, Eendag as ons Groot is, Swart Koffie, Skepe, Nonna, Net voor die Storm kom, en vele meer), Nadia Beukes, Bernice West, Eddie de Jager, Zöricke Snyman, Jacomien de Wet en nuweling Ilán van Staden, wat sover baie beïndruk het.

 “Ek knyp myself nou nog om seker te maak dat dit nie ’n droom is om deel te kan wees van hierdie musiekblyspel nie. Die hele jaar getuig net van die Here se perfekte tydsberekening. Ek het gebid vir ’n mosterdsaadjie en die Here het vir my ’n plaas gegee,” sê Van Staden oor die geleentheid om deel te kan wees van Die Gelofte: ‘n Musiekblyspel. “Dit was vir my lekker om ’n stukkie van myself reeds in Christiaan te sien. Hy is aan die begin baie op sy senuwees, maar dis interessant om te sien hoe sy karakter met die verloop van die verhaal ontwikkel – van optelkind na jongman wat geskiedenis verander met die hulp van God en familie. Dis vir my ’n voorreg om so ’n eerbare rol te kan vertolk.”

Nog opwindende nuus is dat Ilán ’n platekontrak met Inhoud Huis Musiek gesluit het en dat hy eersdaags sy debuut-album vrystel.

Hy het ook reeds die mark betree met ’n duet saam met Bernice West, Soen My Op My Mond, wat spesiaal geskep is vir die musiekblyspel.

Die Gelofte: ‘n Musiekblyspel is ’n gesinsvriendelike liefdesverhaal wat in oorlogstyd afspeel en ons afhanklikheid van mekaar en God simboliseer.

Wanneer Aimee en Ali, twee hoërskool-dramastudente, ’n kis briewe onder in die teater se kelder ontdek, leer ken hulle die verhaal van Sarel Cilliers (en die Voortrekkers) wat saam met sy gesin oor die Drakensberge trek na die beloofde land. ’n Liefdesverhaal ontvou ook tussen twee jongmense wat skynbaar ’n onmoontlike gelukkige einde kan hê.

Hierdie ongelooflike verhoogproduksie beloof om jou op ’n emosionele reis te neem van skaterlag-tonele en knop-in-die-keel-oomblikke wat jy nog vir lank daarna sal onthou… en dit nog boonop in jou eie taal, Afrikaans!

“Ek dink dis belangrik dat almal herinner moet word aan die belofte wat ons voorvaders aan die Here gemaak het om vir die nageslagte te laat weet wat Hy vir ons volk gedoen het en steeds elke dag vir ons doen. Met hierdie musiekblyspel slaag ons in hierdie doel,” sluit Van Staden af.

Diegene wat nog nie kans gehad het om Die Gelofte: ‘n Musiekblyspel te beleef nie, kan hier klik om kaartjies te koop vir die derde reeks vertonings!

Die Gelofte: ’n Musiekblyspel

Webblad: www.diegelofte.co.za

Leave a Reply

error: Content is protected !!