Hulle nuwe naam is RAAF, dit is die betekenis van hulle familienaam, Rabé.
‘n Raaf is ‘n boodskapper voël wat een maat kies vir ‘n leeftyd. Hulle kan praat en is deel van die sangvoël (songbird) familie.
Esté en Lourens Raaf (Rabé) vier binnekort sewe jaar as voltydse musikante. Toe hulle in 2010 as studente by Universiteit Stellenbosch saam begin skryf, sing en speel het, sou hulle nooit in hulle wildste drome kon voorspel dat hulle sou trou, ‘n alternatiewe pad as loopbaan sou aangryp en in 2016 voltyds in die musiek bedryf sou wees nie. Herkoms en nalatenskap is vir Esté en Lourens belangrik. ‘n Delwing in wanneer die eerste Rabé’s aangeland het in Suid-Afrika het gelei na die ontdekking van waar die familienaam vandaan kom en wat die betekenis is. Hulle het besef dat die betekenis van hulle familienaam eintlik hulle reis en loopbaan baie akkuraat opsom: die Raaf wat deel is van die sangvoël familie, een maat kies vir ‘n leeftyd en ‘n boodskapper voël is. Die pandemie se repurkusies en lewenslesse was soos ‘n hergeboorte vir die musiek duo en hierdie is die uitvloeisel daarvan.
“‘n Mens kan nie werklik jou lewe beplan nie, ‘n mens moet weet waarheen jy droom en vandaar elke geleentheid aangryp wat pas by daardie droom…” sê Lourens. Hy het aanvanklik vier jaar as beleggings analis gewerk voordat die musiek en toere te besig geraak het en hy sy werk van die kantoor na die verhoog kon ruil; presies in lyn met die droom. Vandag is hy steeds baie passievol oor finansies en besigheid. As onafhanklike platemaatskappy en saam met hulle span, word nie alleen die kuns wat hulle skep nie, maar ook alles van hulle loopbane in musiek self deur Esté en Lourens bestuur.
“Om die hele land en wêreld vol te reis om grense te verskuif en soos boodskapper voëls aan ons melodieë en lirieke te gaan vlerke gee is vir ons ‘n droom wat waar geword het. Ons is altyd op reis, ons kies die avontuur, ons kies hoop en ‘n beter môre. Ons dink ons het nou in onsself in gegroei en is reg vir ‘n nuwe hoofstuk”, sê Esté Raaf.
Esté is ook baie passievol oor gesondheid en glo dat die gesonde gewoontes wat hulle oor die jare gekweek het hulle in staat stel om die besige skedule van gemiddeld 150 konserte ‘n jaar regoor Suid-Afrika en Namibië vol te hou. Esté is ‘n opgeleide aktrise en skryf ook graag poësie.
Die gedigte word ook deesdae geïnkorporeer in hulle optredes en is te koop na afloop van konserte. Daar is net een van elk en dit raak soos ‘n digbundel waarvan die bladsye uitgeskeur is, geraam is en in verskillende mense se huise hang.
In die lig van die feit dat beide van hulle musiek skryf, al vir televisie en advertensies gekomponeer het en nog baie melodieë, stories en style in hulle opgesluit het, beoog hulle om ook individuele kant projekte aan te pak wat dan onder die vaandel van RAAF sal leef. Hulle het ook ‘n passie daarvoor om die reis in besigheid en die lesse van hulle loopbaan met ander musikante en kreatiewe skeppers te deel. Hulle skop dit af deur betrokke te wees by die heel eerste Musiek Indaba wat deur Karen Meiring gestig is en wat in November / Desember in Stellenbosch plaasvind.
“Sewe is ‘n belangrike en noemenswaardige getal en dit voel of ‘n skuif, ‘n vernuwing onvermydelik is – ons bring dit tuis, ons gee dit vlerke…ons sien ook baie uit om die musiek vry te stel wat nou uit ons penne vloei.” Lourens Raaf
PREDIKER
RAAF gaan die vol PREDIKER album binnekort vrystel. Die diversiteit van hulle optredes en instrumente en hulle aansteeklike energie waarvoor hulle so bekend is, word meer as ooit op die res van die PREDIKER album beklemtoon. Elke lied het sy eie identiteit en neem die
luisteraar op verskillende reise deur die seisoene en emosies van die lewe
Lourens en Esté wil spesiaal dankie sê aan almal wat hulle ondersteun het om tot op hierdie punt te kom. “Ons sou dit nooit kon doen sonder elke persoon wat ons konserte bywoon, ons musiek luister en ons nooi om by hulle spesiale vieringe op te tree nie. Dankie! Niks verander werklik nie, die verandering en ontwikkeling het reeds oor die jare gebeur. Ons bring dit nou net tuis na wie en wat ons is; ons tree net in in onsself en gaan voortaan ons nuwe musiek, idees, konserte en reise as RAAF voort sit. Ons nooi julle saam vir die volgende hoofstuk soos wat ons aan RAAF vlerke gee.”
Hulle konserte sal vir eers onder die volgende titel aangebied word RAAF (née Bottomless Coffee Band), om uiteindelik slegs as RAAF bekend te staan. In onderhoude kan hulle na verwys word as Esté en Lourens RAAF.