Botter - Bly 'n Dromer

Die begaafde 47-jarige sanger Peet van den Berg, wat sommer onder die tongval-lekker naam Botter sing, het nog nooit dinge op dié gewone manier gedoen nie. Sy eerste enkelsnit, Bly ’n Dromer, is daarom ook nie ’n uitsondering nie.

“Ek is dalk al ’n bietjie ouer as die ander pop-rocksangers, maar musikaal het ek baie om aan die luisteraar te bied,” spot Botter – wat al die studentebynaam tydens sy jare aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) – gekry het.

“Ek was redelik oorgewig en my vriende het lekker gespot dat ek net soos ’n stuk botter is omdat ek so propvol cholesterol was.

“Ek het die afgelope drie jaar aansienlik baie gewig verloor en nou kan ek darem met laevet-margarien vergelyk word,” knipoog hy.

Botter glo dat musiek nog altyd – wel soos margarien – deur sy are gevloei het. Hy was ses jaar oud toe hy voor 6 000 mense by ’n kerkfunksie opgetree het. Waar sy stemmetjie toe suikersoet was het dit goed verouder en nou is dit net so rou, opreg en rokerig soos die van die Camel-man.

Musiek was altyd net ’n stokperdjie, maar nadat hy sy werk as finansiële bestuurder verloor het, is hy gedwing om sy brood-en-botter met sy stem te verdien.

Dié waagstuk was baie suksesvol want sedertdien het hy al voorprogramme vir van ons land se bekendste sangers onder andere Nicholis Louw, Elandré en Jo Black gedoen. Hy het ook ’n bekende gesig op feesverhoë geword.

Maar toe kom die Covid 19-pandemie. “Ek het verbasend genoeg dit op ’n manier reggekry om kop bo water te hou.”

Gedurende dáárdie tydperk het die lirieke vir Bly ’n Dromer in sy gedagtes begin draal.  Stadig maar seker het die woorde en die melodie vorm begin aanneem en die resultaat is ’n pop-rock mengelmoes wat die donker gedeelte van die geskiedenis besonders goed vasvang.

Hy sing ook: “Die donker het jou hart kom haal…”

Dié snit handel oor verlore drome en lewens, maar daar is altyd hoop.

“Baie mense het hulle lewens en drome verloor. Sommige het vir jare gewerk en gebou net om in ’n oogwink alles te verloor. Die tema van die snit is die feit dat mense aan jou drome moet vasklou… “na die winter kom die somer,  hou vas aan die dinge wat jou raak.”

Botter se stem kan gemaklik tussen verskillende genres rondbeweeg en hy is nie net tot een genre beperk nie. Trouens, hy kan tot die hoë note van verskeie klassieke opera snitte bykom.

Bly ’n Dromer is ’n belowende nuwe toevoeging tot die Afrikaanse repertoire en ons hoop dat daar nog ’n paar liedjies uit Botter se pen gaan verskyn.

Die snit is musikaal versorg en opgeneem deur die bekende musikant en sanger Ernie Bates.

Bly ’n Dromer is beskikbaar op alle digitale platforms. 

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!