Slegs ses maande nadat die Weskaapse-sanger Déhan die musiekbedryf storm geloop het  met ‘n herverwerkte en nuutverpakte weergawe van Lucas Maree se Weduwee se kruik, het hy weer die onmoontlike reggekry: om Anneli van Rooyen se bekende liedjie Kolmanskop op ‘n eiesoortige wyse aan te bied en te interpreteer.

Die liedjie het ook op sy debuutalbum Dinsdagaand verskyn, maar is nou as varsverpakte enkelsnit uitgereik.

Kolmanskop, wat in 1995 op Anneli se se album Soos ou vriende opgeneem is, vertel die storie van ‘n spookdorp in NamibiëDié doprie was eens op ‘n tyd ‘n vooruitstrewende myndorpie met kroeë (selfs bordele), ‘n barbier en winkels. Na die Eerste Wêreldoorlog het die dorpie stadig begin leegloop nadat die myn uitgeput geraak het. Vandag is daar net spokerige, verlate huise en herinneringe  van dit wat lank gelede daar gebeur het oor. Toeriste loop kniediep in die sand as hulle die dorpie besoek.

Déhan het ‘n kans gewaag om Kolmanskop op te neem en uit te reik – die liedjie is een van Anneli se bekendste treffers – maar hy doen nie afbreuk aan musikale genialiteit van die trefferliedjie nie.  Inteendeel, Anneli het van die manier gehou waarop Déhan die liedjie vertolk het.  

Déhan is ook ‘n groot Anneli-aanhanger en dit was vir hom ‘n voorreg en ‘n eer om nuwe lewe in Kolmanskop te blaas.  “Die liedjie lê my baie na aan die hart,” vertel hy.

Kolmanskop is liriekgedrewe en die lirieke (in die geval) is dalk baie belangriker as die musiek, maar Déhan het juis die liedjie gekies omdat dit pasknap vir sy stem is.

Hierdie talentvolle kunstenaar het nog altyd ’n diep waardering  vir betekenisvolle musiek gehad en hou nie daarvan om borrelgom liedjies te skryf of te sing nie. Dit is ook waarom hy besluit het om Kolmanskop op te neem.  “Ek is mal oor stories en as mense hulle verhale met my deel bevind ek myself soms pens en pooitjies binne hulle lewens,” sê hy. “Terwyl ek die liedjie opgeneem het, het ek myself verbeel dat ek een van die delwers in die Namib-woestyn was.”

Déhan meen dat Kolmanskop ook ‘n dieper betekenis het. “Toe ek die liedjie vir die eerste keer hoor, het dit my diep geraak. Dit is simbolies van die vreemde tye waarin ons lewe, die ruimtes waarin ons soms kan verdwaal, en diepvergete geraamtes wat jare later weer uit die kaste tuimel.”

Déhan het nog nooit die geleentheid gehad om self tussen die verlatenheid van Kolmanskop rond te loop nie, maar as die kans hom voordoen is hy op die vliegtuig en dáár: tussen die huise uit ‘n vervloë era en vertrapte drome.

Kolmanskop is beskikbaar op alle digitale platforms as ook Déhan se album, Dinsdagaand.

Sosiale Media: Facebook | Instagram

Leave a Reply

error: Content is protected !!