Die mens is nou een maal nie gemaak om in afsondering en sonder liefde te leef nie. Hulle hou van liefde, hou daarvan om iemand vas te hou en vasgehou te word, om op ‘n lukraakte Dinsdagaand rooiwyn te drink, verlief te raak, en na musiek te luister. Al duur die liefde nie ‘n ewigheid nie, is dit tog vir ‘n oomblik daar.
Die Weskaapse-sanger Déhan Pynappel se nuutste enkelsnit, Dinsdagaand, is juis geïinspireer deur die liefde (al het dit sy hart in duisende stukkies gebreek) en oud en jonk sal dus aanklank by die liriekgedrewe liedjie vind. “Dinsdagaand is ook die titel van my debuutalbum wat eersdaags uitgereik gaan word. Die liedjie gaan oor liefde tussen twee mense wat nie volhoubaar is nie, wat nie vir ewig duur nie,” vertel Déhan oor sy nuutste vrystelling.
Dinsdagaand is ’n Afrikaanse ballade wat Déhan self neergepen het en sy diep rasperstem soos ‘n gelooide leerhandskoen pas. Dié enkelsnit is een van dáárdie liedjies wat jou hoendervleis gee wanneer jy dit vir die eerste keer hoor. Dit is ‘n baie persoonlike liedjie wat duidelik in die lirieke vergestalt word. “Sit jou arms om my lyf dan druk ek jou liefde teen my styf, vanaand kyk jy my in my oë, dan weet jy wat ons gaan verloor…. partykeer ry ek soms verby jou huis en dan dink ek terug aan jou en besef jy was maar net ‘n Dinsdagaand…”
“Ek het een Dinsdagaand iemand ontmoet wat my hele lewe verander het,” vertel hy. “Ons het daardie aand té veel wyn gedrink (en) verlief geraak. Ek het werklik gedog dit is die een – dat ek sou trou en gelukkig sou wees, maar dinge werk nooit uit soos ‘n mens dit beplan nie. Ek dink ek was verlief op die idee van liefde.”
Na dié liefdesteleurstelling het Déhan vir lank die pen en mikrofoon neergesit en het eers onlangs met sy debuutenkelsnit Weduwee se kruik wat deur die sanger Lucas Maree geskryf is, sy terugkeer na die musiekbedryf gemaak.
Dié snit is goed deur radiostasies ontvang en musiek kritici het veral positief gereageer op die manier waarop Déhan die oorbekende liedjie op ‘n eiesoortige wyse geïnterpreteer het.
Déhan woon in Gordonsbaai in die Weskaap en wanneer hy nie op die verhoog of in die ateljee is nie, sny, kleur en blaas hy die room dé lá room van Gordonsbaai se kapsels. “My tweede beroep is ‘n haarstilleerder,” knipoog hy.
Hierdie talentvolle kunstenaar het nog altyd ’n diep waardering vir betekenisvolle musiek gehad en hou nie daarvan om borrel-gom-lirieke te skryf nie.
Déhan, met sy rasperstem, lekker luister lirieke en warm verhoogpersoonlikheid, het dit reggekry om met passie en deursettingsvermoë vir homself ’n loopbaan in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf oop te kerf.
As Dinsdagaand enigsins ’n aanduiding is van wat om te verwag, is sy toekomsplanne beslis iets om na uit te sien. Die liedjie bestaan uit die perfekte kombinasie bestanddele vir ’n treffer wat hier is om sy merk in die Afrikaanse musiekbedryf te maak.
Kyk die musiekvideo hier:
Dinsdagaand is beskikbaar op alle digitale platforms.
Sosiale Media: Facebook; Instagram