Die Wes-Kaapse-sanger Déhan het nie gedurende dié grendel tydperk stilgesit nie – sy derde enkelsnit binne ses maande Skelms In Die Verte – is pas uitgereik. En net soos sy vorige enkelsnit, Dinsdagaand, is dié liedjie ‘n baldadige liefdesballade.

‘n Mens kan Skelms In Die Verte amper as ‘n opvolg van Dinsdagaand beskou, want waar laasgenoemde handel oor liefde tussen twee mense wat nie volhoubaar is nie, en wat nie vir ewig duur nie, vertel eersgenoemde die storie van vriende wat ‘n mens gedurende daardie eina-tydperk ondersteun.

“Skelms In Die Verte het vir my ‘n baie spesiale betekenis,” vertel hy. “Die lirieke vertel die storie van verlore liefde, maar ook oor daardie twee mense wat my lewe verander het; my twee beste pelle en hulle stories. Ons almal het toevallig op dieselfde tyd deur moeilike tye gegaan, maar ons was daar vir mekaar. Ons het mekaar ondersteun. Ons het ons pyn saam weg gedans.”

Déhan het Skelms in die verte self geskryf en hiermee bewys hy ook dat hy ‘n liedjieskrywer is wat met die beste kan kers vashou.  Die liedjie pas ook sy diep rasperstem soos ‘n goed gelooide leer handskoen.

Dié enkelsnit gee net soos met Dinsdagaand vir ‘n mens hoendervleis wanneer jy die eerste keer daarna luister.

“Om skelm te vry in die verte,” sê Déhan,  is altyd lekker, maar wanneer die hart oorneem is dit altyd ‘n groot gemors. Dít is hoe Dinsdagaand ontstaan – daardie gevoel as jy jou tasse pak, gereed om uit die verhouding uit te stap en ‘n nuwe lewe binne te dans. Maar dan het jy dalk ‘n persoonlike besitting by jou voormalige geliefde vergeet en dan is die herinneringe weer daar.”

Daardie herinneringe wat hy amper-stout in sy lirieke verwoord: Dit is ook ‘n baie persoonlike liedjie, amper stout: …”kan ons twee weer onder Tafelberg vry … ek wens ons kan minder stry…”

Volgens Déhan is Skelms In Die Verte ‘n mengelmoes van gevoelens; pyn en vreugde.

Na dié liefdesteleurstelling, het Déhan wat vir ‘n ruk sy pen en mikrofoon neergesit het, weer begin skryf en het vroeër vanjaar met sy debuutenkelsnit Weduwee se kruik wat deur die sanger Lucas Maree geskryf en bekendgemaak is,  sy terugkeer na die musiekbedryf gemaak.

Dié snit is goed deur radiostasies ontvang en musiek kritici het veral positief gereageer op die manier waarop Déhan die oorbekende liedjie op ‘n eiesoortige wyse geïnterpreteer het.

Déhan woon in  Gordonsbaai in die Weskaap en wanneer hy nie op die verhoog of in die ateljee is nie, sny, kleur en blaas hy die room dé lá room van Gordonsbaai se kapsels. “My tweede beroep is ‘n haarstileerder,” knipoog hy.

Hierdie talentvolle kunstenaar het nog altyd ’n diep waardering vir betekenisvolle musiek gehad en hou nie daarvan om borrelgomlirieke te skryf nie. “Ek is mal oor stories en as mense hulle verhale met my deel bevind ek myself soms pens en pootjies binne hulle lewens.”

Skelms In Die Verte is ‘n lekker luisterliedjie en sal beslis byval vind by luisteraars wat deur die liefde verlaat is, maar altyd op hulle vriende kan staatmaak.

Luister na die snit hieronder:

Skelms In Die Verte is beskikbaar op alle digitale platforms as ook Déhan se album, Dinsdagaand.

Sosiale Media: Facebook | Instagram

Leave a Reply

error: Content is protected !!