Dié aartappelmagnaat van Limpopo, David Divaad, is na net vier maande terug met ’n splinternuwe enkelsnit, Onthou Hom, wat die luisteraar noot-vir-noot tot by hoendervleis crescendo vasgevang hou.

David het verlede jaar tot die Afrikaanse musiekmark toegetree met die enkelsnit, My land, waarin hy die pyn van die Covid-19 pandemie grou verwoord het. Die snit is goed deur plaaslike radiostasies ontvang en David het ook ’n getroue ondersteuningsbasis opgebou.

Met Onthou Hom vestig hy homself ook as ’n gospelsanger. Hy het dié snit ook self neergepen.

Onthou Hom is ’n smeekgebed waarin ’n Suid-Afrikaanse boer se stem duidelik gehoor kan woord.

David, wat saam met sy pa en twee broers in die primêre landboubedryf is, het ook tydens die harde inperking die spreekwoordelike klippe gekou, maar “dit gaan nou weer beter, ons kan weer asem haal, maar die impak van die pandemie sal nog ’n paar jaar by ons resoneer.”

“Ek het tydens die pandemie besef dat ’n mens nie kan veg teen iets wat onsigbaar is nie; die virus het net besit geneem van dit wat nie aan hom behoort nie.

“Die pandemie het ons almal geraak, maar ek het besef dat ons nie in beheer is nie. Ons moet net glo en vertrou dat God in beheer is.”

Daarom dra hy die lied aan die Here op, want hy het net vertrou dat dinge wel sou beter raak, afgesien van die sinnelose plaasaanvalle, teisterende droogtes en peste.

“Ek het Onthou Hom se woorde geskryf om ’n belofte aan ons Liewe Vader na te kom deur my stem aan Hom op te dra; om mense van Hom te vertel en net aan jou geloof vas te klou – gedurende goeie en slegte tye.”

Die openingsvers van die snit eggo ook sy woorde: “Onthou Hom. Hy sal altyd daar wees solank jy op Hom vertrou. Onthou Hom wanneer jou drome opraak…”

Die openingmusiek van die snit begin baie dramaties – soos die opening van ’n keltiese liturgie of dalk die opening van ’n operaproduksie.”

’n Mens moet ook onthou dat David in klassieke musiek en klavier onderrig is, daarom is dit seker te wagte dat sy eerste gospelliedjie ook klassiekgedrewe sou wees.

Dit doen egter nie afbreuk aan die egtheid van die snit nie; trouens die gemak waarmee hy tussen die hoër C-3 en laer A-5 note beweeg sorg vir ’n hele paar WOW-oomblikke.

Onthou Hom is musikaal goed versorg,  en ons hoop dat veral kerke hom ook sal nooi om by hulle op te tree. Dit is is ’n snit wat selfs die gehardste nie-gelowige sal laat snik, want ons kan net vertrou dat dinge wel weer beter sal gaan.

Onthou Hom is beskikbaar op alle digitale platforms.

Leave a Reply

error: Content is protected !!