Partykeer kan ’n toevallige sameloop van omstandighede perfek uitwerk – soos wanneer twee puik musiekgroepe, Rubber Duc en ADAM, besluit om saam ’n splinternuwe enkelsnit uit te reik.

Come Again  was nooit bedoel om deur enige van hierdie groepe opgeneem te word nie en is eintlik geskryf vir ’n Koreaanse platemaatskappy. “Omdat KPOP tans so gewild is, is daar baie platemaatskappye en uitgewers wat Engelse liedjies vir hulle kunstenaars soek,” verduidelik Rubber Duc se hoofsanger, Nick Jordaan. “So, ons – as ’n groep kunstenaars wat by Muse Studios werk – het Come Again geskryf en vir musikante in Korea gestuur. Ons skryf baie liedjies vir ander kunstenaars, maar daar was net iets spesiaal omtrent hierdie een wat ons nie uit ons koppe kon kry nie.”

ADAM se Hugo Ludik stem saam. “Ons het op die ou einde so baie van die liedjie gehou dat ons besluit het dat ADAM en Rubber Duc dit eerder moes opneem – en ons is bly ons het!”

Come Again, wat geskryf is deur Nick, Hugo, Brendan Campbell en Amiel Gopal, gaan daaroor dat almal op die een of ander stadium in hulle lewens iemand bekend raakloop; iemand wat hulle weet nie goed is vir hulle nie, maar wat hulle sukkel om te weerstaan. “Ons het almal iemand in ons lewens wat aanhou terugkom, soos ’n boemerang of draaideur,” sê Nick. “Dit is hoekom so baie mense by die liedjie sal aanklank vind. Net soos daardie onweerstaanbare mense, sal die liedjie ook opduik wanneer jy dit die minste verwag.”  

Hierdie voelgoedsnit is uniek omdat dit nie geskryf is om aan Rubber Duc of ADAM se styl te voldoen nie. “Dit is eintlik baie anders benader en moes nooit vir ons so spesiaal gewees het nie, maar dit het anders uitgedraai as wat ons beplan het. Dit was ook soveel pret om die liedjie te skep! Ons werk al vir maande saam en speel al lank met die idee om iets saam op te neem. Ons het almal dadelik saamgestem dat hierdie liedjie perfek was hiervoor, nadat ons dit reeds na die platemaatskappy toe gestuur het,” deel Nick.

“Dit is altyd ongelooflik lekker om saam met Rubber Duc te werk,” sê Hugo. “Hulle is baie professioneel en wanneer ons saam werk, wil ons almal graag die perfekte eindresultaat skep. Ons hoop dat luisteraars dit sal kan hoor in Come Again.”

ADAM maak al sedert 2011 opslae in die Afrikaanse vermaakbedryf en het bewonderaars geskok toe hulle in 2019 aangekondig het dat hulle nie meer saam gaan optree nie. Hulle het egter pas aangekondig dat hulle die groep hervat – met ’n nuwe lid! Die trio, wat nou bestaan uit Hugo, Kyle Grant en Stoff de Beer, het ook onlangs ’n nuwe enkelsnit, LIEFDE IS, vrygestel wat reeds besig is om soos ’n veldbrand te versprei.  http://smarturl.it/LiefdeIs

Die groep het al talle musiektoekennings (Ghoema en SAMA), goue albums en radio-treffers op hulle kerfstok, en is veral bekend vir liedjies soos Liefde Soldaat, Kasteel, Gebore Om Jou Lief Te Hê, Goud, Hoogtevrees, Sal Oorlog Vir Jou Maak, Sê My, Iets In Die Water en vele meer.

Hulle energieke optredes, unieke klank en pragtige lirieke het van die begin af aanklank gevind by gehore van alle ouderdomme en vir hulle optredes losgeslaan by van die grootste geleenthede, feeste, skoue en funksies in die land en het selfs ’n draai op die grootskerm gemaak in die lokettreffer, Pad na jou Hart.

Rubber Duc, wat in Maart 2014 hulle debuut in die plaaslike mark gemaak het, bestaan uit Nick Jordaan (hoofsanger), Brendan Campbell (hoofkitaarspeler), Amiel Gopal (baskitaarspeler), Kabelo Seleke (saksofoon) en Nicholas Mc Creadie (dromspeler). Sedertdien het hierdie multi-kulturele groep, met hulle unieke musiek, diep in Suid-Afrikaanse harte kom kruip. Hulle debuut-album, The Secret Sunrise, is in September 2016 vrygestel, wat verskeie radiotreffers opgelewer het. Hulle is ook deesdae gereeld te sien by van die land se grootste musiekfeeste.

Alhoewel byna alles in die land sedert Maart op ys gesit is – insluitend die groep se planne vir die jaar – het hulle nooit ophou werk nie. “Dis vir ons lekker om in die ateljee te wees en musiek vir onsself en ander kunstenaars te skryf en op te neem. Ons sien baie uit na 2021! Dis moeilik om tans behoorlik te beplan, maar ons gaan aanhou optree en musiek skep waarop ons trots is. Hopenlik sal ons ook die geleentheid kry om in Korea te toer!”

Come Again is ’n bewys van wat gedoen kan word wanneer goeie musikante besluit om saam te werk. Hierdie enkelsnit is hopenlik die eerste van vele meer projekte wat Rubber Duc en ADAM saam aanpak.

Laai die enkelsnit hier af:  http://smarturl.it/comeagaintonight

Sosiale Media:

RUBBER DUCFacebook | Twitter | Instagram | Webblad 

ADAM – Facebook | Twitter | Web 

Leave a Reply

error: Content is protected !!