Na twee swaar jare vir die musiekbedryf as gevolg van die pandemie, kan musikante uiteindelik ’n bietjie asemhaal en Christiaan Baartman vier dit met die vrystelling van ’n splinternuwe enkelsnit.

Moenie Wag Tot Dit Te Laat Is Nie is ’n vrolike liedjie, met baie betekenis, wat daaroor gaan om jou potensiaal ten volle te ontgin en uit te leef.

“Na twee jaar van swaarkry, voel ek dat dit nou die tyd is om jou passie aan te gryp en regtig te leef. So baie van ons oorleef net elke dag in ’n wêreld vol kompromieë en dis nie hoe dit moet wees nie,” verduidelik die gesoute musikant. “Ons is gemaak om voluit te leef al maak ons nie noodwendig baie geld nie. Geld kan immers nie geluk koop nie. Dit gaan daaroor om gelukkig te wees en jou lewensdoel te bereik.”

Net soos met sy vorige oorspronklike musiek, sal hierdie kontemporêre popsnit luisteraars dwing om oor die lewe te dink, maar die opgewekte wysie sal hulle ook onwillekeurig laat saam neurie op die maat van die musiek. “Ek glo almal sal by die liedjie aanklank vind. Niemand van ons is perfek nie en daar is altyd iets wat ons van ons ware roeping weerhou. Die eerste stap is om te erken dat jy vir iets beter bestem is. Hierdie lied is vir my ’n bakenlig en sal hopelik ander motiveer om hulle potensiaal uit te leef.”

Moenie Wag Tot Dit Te Laat Is Nie volg in die voetspore van Net ’n Bietjie en Stof, wat steeds oor die radio gehoor kan word.

Gedurende inperking, het hy ook snitte soos ’n Vriend Soos Jy (’n lekkerluister-duet saam met Mack Rapapali), My Vrou en Die Beste Deel uitgebring, wat baie goed ontvang is en bo-aan verskeie treffersparades gekuier het.

 Christiaan is al byna vir twee dekades in die musiekbedryf doenig en het sy eerste album in 2008 uitgereik.

Die sanger glo dat die toekoms vir hom nog baie hoogtepunte inhou en hy is tans besig om saam met Mack Rapapali en Scheppel (die violis) te werk aan ’n gospelliedjie wat hy in die nabye toekoms wil vrystel. Buiten vir ’n paar ander liedjies, kortspeelplaat en kinderalbum wat reeds in die pyplyn is, beplan hy en Mack ook om deur die land te toer ten bate van die nie-winsgewende organisasie Step by Step.

Moenie Wag Tot Dit Te Laat Is Nie is ’n inspirerende liedjie, wat luisteraars aanmoedig om hulle drome te volg. “Soos die lewe verbyjaag, mis jy dalk jou kans om alles te sien en te doen wat jy moet. Leef jou passie uit en moenie wag tot dit te laat is nie,” sluit hy af.

Moenie Wag Tot Dit Te Laat Is Nie is beskikbaar op alle digitale platforms.

Leave a Reply

error: Content is protected !!