Die opgewekte, voetstamp-lekker wysie en vrolike lirieke van die sangeres Chanté Retief se nuwe liedjie, Seisoene, gaan beslis binnekort ’n gunsteling wees op al wat ’n partytjie en dansvloer is. Hierdie enkelsnit is pas vrygestel en reeds beskikbaar op alle digitale platforms.

Seisoene is ’n spanpoging deur Chanté, Sean Butler, Marli Mulder (Sky Ocean) en Lumar Kirsten en gaan oor hoe jy deur al vier seisoene van die liefde nog steeds kies om vir jou maat lief te wees.

Dis altyd lekker om musiek te skryf uit jou eie ervaring uit en hierdie enkelsnit is presies dit. Daai vlinders-in-jou-maag tipe liefde en die rustigheid wat jy ervaar wanneer jy weet dat jy die één ontmoet het. Die wete dat jy net jouself kan wees en dat die persoon by jou gaan bly, want dit maak nie saak hoeveel klippe die lewe na jou kant toe gooi nie… julle liefde sal altyd wen. Ek is geseënd om te sê dat ek hierdie tipe liefde gevind het,” vertel Chanté oor haar tweede Afrikaanse enkelsnit wat spog met ’n goed voel pop-aanslag. “Seisoene is die tipe liedjie wat jy kliphard in die kar of stort kan sing; wat jou voete laat jeuk en jou hart warm maak. Dis wat liefde en hierdie liedjie se boodskap is.”

Haar nuutste vrystelling volg in die suksesvolle voetspore van haar debuut-enkelsnit, Tragedie, wat aan die begin van 2020 uitgereik en baie goed ontvang is.

Hierdie lewenslustige donkerkop kom van Pretoria af en neem al van jongs af sanglesse. Ek sing al vandat ek ses is. Musiek is iets waarvoor ek nog altyd ’n liefde het en ek het op skool elke geleentheid aangegryp wat ek kon kry. Sedertdien het ek al baie verskeie funksies en feeste opgetree en was ek ook al deel van Rockwood se produksies. Ek het nog altyd gedroom daarvan om my eie musiek vry te stel en hierdie is net die begin,” gesels die kunstenaar, wat deesdae self ook ’n sang afrigter is en haar eie tak van Studio Cha in Centurion besit. “Ek geniet elke oomblik daarvan om ander se talente te ontwikkel en hulle as kunstenaars te sien groei. Al het 2020 nie presies uitgedraai soos wat ek gedink het nie, is dit nogsteeds vir my ’n hoogtepunt-jaar met nie een nie, maar twee enkelsnit vrystellings.”

Chanté het groot bewondering vir moderne Country-kunstenaars soos Lady Antebellum en Kelsea Ballerini en put hoofsaaklik inspirasie vir haar musiek uit heer eie emosies en ervarings. In die toekoms sou die sangeres ook nog graag saam met Riana Nel wou werk as sy ooit die kans sou kry.

Sy verklap dat sy glad mal is daaroor om kreatief te wees en dat sy graag ’n partytjie beplanner of ’n binnehuise versierder sou wou wees as sy ’n ander loopbaan moes kies. Tans is sy hard besig om nuwe musiek te skryf en optredes vir die volgende paar maande te beplan.

Die musiekbedryf het vir Chanté geleer om groot te droom en nie ander se opinies kop toe te vat nie. Sy glo dat musiek eerlik moet wees en uit die hart uit moet kom en Seisoene is die perfekte voorbeeld van wat sy graag met luisteraars wil deel.

“Dis snaaks hoe die lewe werk. ’n Tragedie kan jou lei tot waar jy moet wees. Alles gebeur vir ’n rede. Seisoene is vir my baie spesiaal, want dit wys hoe baie ek gegroei het as mens en kunstenaar. Dit is ook ’n getuigskrif dat jy wel ook jou gelukkige einde kan hê,” sluit sy af.

Seisoene is beskikbaar op alles digitale platforms.

Sosiale Media: Facebook | Instagram | YouTube

Leave a Reply

error: Content is protected !!