Die Bloemfonteinse sangeres en stemafrigter Cezanne Yzelle se aanhangers se geduld en lojaliteit word nou uiteindelik beloon met die vrystelling van ’n splinternuwe enkelsnit en musiekvideo Waar Ek Moet Wees.

Wanneer jy jou essensie in jou werk uitstort of jou siel, kreatiwiteit en liefde, noem die Grieke dit may-rah-kee. En dit is presies wat Cezanne met Waar Ek Moet Wees gedoen het. Sy sing met haar hart op haar mou – ‘n rustige kaberetagtige-ballade wat heelwat van haar vorige werk, wat op die kommersiële- en musiekblyspel mark gefokus het, verskil.

Die hart van dié liedjie word ook in ‘n neutedop saamgevat in die volgende lirieke: Soveel draaie langs die pad. Soveel keuses reeds gemaak; soveel draaie reeds gevat. “

Met dié liedjie bewys sy dat sy maklik as die Suid-Afrikaanse weergawe van Sinead O’connor beskou kan word, met ‘n stem wat so veelsydig is dat sy ligweg oor vlindernote kan dans en dan weer dieper Merlot-note sonder enige musikale glipse kan weergee en vertolk. Dit kan ook te danke aan haar klassieke musiekopleiding wees; sy kan gemaklik in enige genre rondbeweeg; van pop, rock tot by jazz en blues.

“Die lied, verklap sy entoesiasties, is geskryf in ‘n tyd waar veranderinge noodsaaklik is.  “Elkeen van ons weet dat verandering soms nodig is om te kom waar jy wil en moet wees.”

Dié liedjie vang die belangrikheid vas van hoe nodig dit is om te weet waar jy vandaan kom, om jou eie foute raak te sien, keuses te maak, en aanpassings te maak om weer op die regte pad te kom.  “Dit is egter net om uit jou foute te leer dat jy kom waar jy graag wil wees.”

Waar Ek Moet Wees is deur ‘n mede-Bloemfonteiner Arno de Wet neergepen en met dié liedjie vier sy ook ‘n dekade in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.

Sy het in 2010 haar TV-debuut op die leefstyl- en vermaakprogram Glitterrati met ‘n huldeblyk aan Johannes Kerkorrel gemaak.  Vier jaar later het sy by die groep Arco Musica aangesluit en het in meer produksies “as wat ek vingers aan my hande het,” opgetree.

Teater, sê sy, is ook een van haar groot passies. Sy het onder meer in ‘n gewilde kinderproduksies soos Hans Haas opgetree en was die musikale regisseur vir produksies soos Arco & ADAM in Symphony.

“Dit is vir my belangrik, sê sy, om eg te wees en om ‘n konneksie met die gehoor te vorm.”

Die verhoog is al soos haar tweede huis en sy het dit al gedeel met groot name soos Amanda Strydom, Jan Blohm, Riana Nel, Corlea Botha, Jo Black en Kyle Grant.

Cezanne Yzelle
Cezanne Yzelle, album kuns. Foto: Verskaf

Haar eerste en tweede enkelsnit Dis Ek en Human Hero is baie goed deur plaaslike radiostasies ontvang, en hopelik gaan Waar Ek Moet Wees ook op die top trefferparades boer.

Waar Ek Moet Wees is beskikbaar op alle digitale platforms.

Sosiale Media: Facebook, Instagram

Leave a Reply

error: Content is protected !!