Braaibroodjies is so eie aan die Afrikaanse kultuur soos melktert en koeksisters en het al baie kreatiewe resepte en video’s geïnspireer.

Nou is hierdie einste lekkerny weereens in die kollig as die tong-in-die-kies-onderwerp van Muller Brandt se nuutste enkelsnit, Braaibroodjies, wat weereens daarop sinspeel dat die pad na ’n Afrikanerman se hart beslis deur sy maag loop!

Hierdie opgewekte humoristiese snit, wat elemente van blues, pop en rock kombineer, gaan oor ’n ou wat twyfel of sy pragtige Crossfit-behepte meisie (gespeel deur Nykie Pretorius van Op My Eish! se 2de seisoen) die regte een is vir hom, omdat sy sukkel om braaibroodjies te maak.

“Sy is mooi en alles tel in haar guns, behalwe vir die feit dat sy nie kan braaibroodjies maak nie en dit steek die man dwars in die krop,” verduidelik die musikant oor dié lied wat deur Jattie de Beer van Artistry Productions vervaardig is. “Braaibroodjies is so na aan wie ons is as Afrikaners en ek wou ’n lied skryf wat eg is aan wie ons is. Ons maak ook graag die grap: ‘Kan sy braaibroodjies maak?’, so dit is daarop gebaseer.

In die musiekvideo, wat ook nou beskikbaar is en die humor van die snit perfek komplementeer, wys hulle hoe die man dan verlief raak op ’n ander meisie (gespeel deur die bekende sangeres, Bibi) wat die beste braaibroodjies maak.

Die video is by Louis McLaren se huis in Silver Lakes verfilm. Deon Dee van Dee-Graaff Productions het die regie en vervaardiging behartig, terwyl Wilhelm van der Westhuizen agter die kamera ingeskuif het. Die eindresultaat beloof om alle verwagtinge van die kyker te oortref.

“Mense gaan van die liedjie hou, want dit het ’n ligte, lekker gevoel en nooi jou uit om saam te sing,” sê hy.

Kyk die video hier:

Braaibroodjies vorm deel van sy debuut-album, Brand die Skepe, en volg in die voetspore van Wildebees en Moedertaal wat baie goed ontvang is en speeltyd op groot radiostasies regoor die land geniet.

Muller Brandt het in Pretoria grootgeword en werk al dertien jaar in die musiekbedryf. Sy pa se liefde vir country-musiek het sy passie vir sing laat vlam vat en hy het nog nooit afgewyk van sy droom om ’n voltydse sanger te wees nie.

Oor die jare, het dié dertigjarige kunstenaar heelwat hoogtepunte in sy loopbaan bereik en is in 2022 aangewys as die wenner van Ontbytsake se liedjieskryfkompetisie.

As jy hom uitvra oor sy planne vir die toekoms, verklap hy dat hy reeds besig is om aan ’n volgende enkelsnit te werk en dat hy beplan om soveel as moontlik tyd op die verhoog deur te bring in 2023.

Braaibroodjies is nou op alle digitale platforms beskikbaar.

Open in Spotify

Leave a Reply

error: Content is protected !!