Bottomless Coffee Band stel roerende musiekvideo oor verlies bekend vir hulle lied Ek Wou Nog. Die folk-pop-due wat bestaan uit eggenote, Lourens en Esté Rabé. Op 4 Desember 2020 het hulle die eerste hoofstuk van hul splinternuwe voltitel Afrikaanse album, Prediker, uitgereik. Al die snitte op hierdie album, is gedurende die Suid-Afrikaanse grendeltyd geskryf.
Ek Wou Nog is ‘n sielvolle ballade wat ‘n verhaal van verlies vertel. Die musiekvideo is in Nieu-Bethesda verfilm en neem kykers op ‘n roerende reis.
“ Ek het in Maart van 2020 ‘n kursus bygewoon in Johannesburg ”, vertel Esté. “ Ek het saam met die nuus dat die eerste Covid-19 geval in Suid-Afrika bevestig is, in Gauteng geland. Die naweek het ek by een van my naaste vriendinne gebly en op die aand wat ons uiteindelik albei tyd het om om ‘n tafel te sit en te eet en te gesels, kry sy die oproep dat een van haar baie naby familielede pas oorlede is. Die skok en hartseer in my vriendin se oë het my diep geraak. Ons het tot laatnag sit en huil en ek het besef hoe weerloos ons elkeen is wanneer ons verlies in die gesig staar. Ek het nie besef hoe noue verband daar tussen al die gebeure van daardie naweek was nie; dis asof daardie ervaring van verlies ‘n voorspelling was van wat vir ons wêreld voorlê, meer as ooit; verlies. Ons het alle vorme van verlies ervaar in hierdie afgelope paar maande en elkeen van ons staan weerloos voor dit. ”
Die duo hoop dat daar vertroosting kan wees vir elkeen wat iets of iemand verloor het in hierdie pragtige, rou ballade.
Oor die skiet van die musiekvideo in die NG Kerk Nieu-Bethesda, vertel Lourens: “Ons was eintlik besig om Sewe Somers se musiekvideo te verfilm. Na ons sonsopkoms verfilming, het ons gewag vir sagter lig oor ontbyt. Ek het gewonder hoe moontlik dit sal wees om te kyk hoe die binnekant van die kerk lyk. Esté het vir die eienaar van die restaurant gaan vra of sy iemand ken wat vir ons die kerk sal kan oopsluit en in tipiese Karoo styl en gasvryheid bel sy dadelik die koster, ‘n vriendin van haar, tannie Ansie… Ansie was heeltemal gemaklik, inteendeel opgewonde, daaroor dat ons in die kerk verfilm en het eers vir ons al die geskiedenis vertel – ons kon tot die kerkklokke lui… ”
Dis toe Lourens en Esté en die span die atmosfeer van die kerk indrink dat hulle impulsief besluit het om eerder iets vir Ek Wou Nog te probeer vasvang. “Dit was nie eers deel van die beplanning nie” se Esté. “Dit was absoluut ‘n regte tyd, regte plek, regte atmosfeer scenario. Ons het die video binne drie ure klaar verfilm en ons het almal geweet dat iets spesiaal sopas gebeur het.”
Lourens en Esté het steeds kontak met tannie Ansie.
Kyk die Ek Wou Nog musiek video hier:
Meer oor Prediker Hoofstuk Een
Die album is deur ‘n lewensveranderende ervaring gedurende hul besoek aan Amerika in Januarie 2020, en die onvoorspelbaarhede van die grendeltyd en die effek van ‘n pandemie op ons wêreld en samelewing, geïnspireer. Deur die skep van Prediker het hulle besef watter groot rol en verantwoordelikheid kunstenaars dra om gevoelens van ‘n tyd in musiek-stories te omskep. Hierdie album bied dus musiek oor meer as liefde, koffie, wyn en mense aan; dis ‘n versameling van stories oor die seisoene van die lewe.
Hoofstuk Een bevat drie titels naamlik Sewe Somers, Alles en Niks, en Ek Wou Nog . In die eerste enkelsnit Sewe Somers sing die Rabé’s oor die sewe somers wat hulle al as getroude paartjie saam spandeer het. Hul boodskap is eenvoudig: “Droom saam, dit sal ‘n mens vlerke gee. En dan, deur die op en af, en heen en weer, hou van mekaar!” Lourens vertel hoe belangrik dit vir hulle is om mekaar nie net lief te hê nie, maar om ook in die huwelik van mekaar te hou.
Alles en Niks is ’n lied oor die mens se verganklikheid, maar ook die hoop wat ons met ons saamdra, en dat dit die wêreld kan verander. Alles en Niks vang ook die sentiment van die interessante tyd waarin ons leef vas. “Ons het gekies om die beste te maak van die tyd-geskenk in die inperkings tydperk deur die onvoorspelbaarheid om te sit in inspirasie – dit was brandstof vir ons kreatiwiteit”, sê Esté.
Lourens en Esté glo in kameraadskap en samewerking, en het vir Prediker met elke snit ‘n unieke spesialis span saamgespan. Vervaardigers en opname-ingenieurs soos Fred den Hartog en die span by The Nothing Club, wat met die opname van Sewe Somers aan die stuur was, sorg vir uitsonderlike kwaliteit in ‘n album met verskeie maskers. Alles en Niks en Ek Wou Nog is deur die
meesterlike hande van Benjamin Hound en Gerhard Grobler van Stereo Hills opgeneem. Vir die ander hoofstukke reis die liedere reg oor die land en mag van hulle selfs by ingenieurs in Londen draai. “Dit help dat elke ingenieur en sy span werk op dit waarvan hulle hou. Sodoende sorg dit dat elke lied ten volle tot sy reg kom en apart van mekaar kan staan. Die gees van samewerking tussen almal en die temas vorm die goue draad deur die album,” sê Este. “Dis ook ‘n goeie uitdaging vir ons om saam met verskillende mense te werk aan ons musiek. Dit laat ons uit ons gemaksone klim en dit help ons groei as musikante”, voeg Lourens by.
Ek Wou Nog en Prediker is beskikbaar op alle digitale platforms.
Sosiale Media: Facebook | Instagram