Bottomless Coffee Band se nuutste enkelsnit uit hul album Prediker is Vrydag 22 Oktober op alle digitale platforms vrygestel. Die enkelsnit, Klankdig, volg kort op die hakke van die baie suksesvolle Jonk & Verlore uit Hoofstuk II van hul jongste album. Aanhangers kan ook uitsien na die treffende musiekvideo wat binnekort vrygestel word.

Klankdig is ‘n hartroerende belade uit Prediker Hoofstuk II. Dit staan in interessante kontras teenoor die hoogs suksesvolle voorafgaande pop-dans treffer Jonk & Verlore. Volgens Bottomless Coffee Band, “simboliseer [dit] die tyd waarin ons is; waar ons mekaar se harte moet oppas en styf moet vashou. Ons was lanklaas so afhanklik van mense en menslike interaksie. Die idee dat ons klankdigte kamers vir mekaar skep waarin ons kan skuil totdat ons weer sterk genoeg is om die dag aan te pak, was vir ons so ‘n mooi prentjie.”

Die diverse aard van die album is reeds in Hoofstuk I blootgelê. Dit word onder andere teweeg gebring deur die samewerking met verskeie opname-ingenieurs by die skep van die verskillende snitte op die album. Dit hou die afwerking deurlopend deur die album vars en anders. Klankdig is by Abbey Road Institute (Johannesburg) deur Ben Ludik opgeneem.

Meer oor PREDIKER Hoofstuk II

Hoofstuk II bestaan uit vier enkelsnitte by name Jonk & Verlore, Klankdig, Sonskyn en die reën en Plek aan my tafel. Jonk & Verlore was in Julie 2021 vrygestel en jy kan hier daarna kyk en luister. Die laaste twee enkelsnitte van dié Hoofstuk word albei nog voor die einde van die jaar aan aanhangers beskikbaar gemaak.

Oor die uiteenlopende aard van die verskeie snitte waarna daar reeds verwys is, meen hulle: “Ons daag onsself uit sodat elke snit natuurlik in die rigting moet ontwikkel waarheen dit neig; daarom raak ons vertrouens verhouding met die opname-ingenieur en vervaardiger belangrik. ‘n Mens kan maklik vashou aan ‘n spesifieke klank en sodoende nooit heeltemal ontwikkel as musikant nie. Ons het hierdie inspirasie van, onder andere, Bob Dylan geneem. Dit was geen geheim dat hy telkemale sy sangstyl, genre en aanslag aangepas het soos wat hy as musikant gegroei het nie. Hy kon dit wel regkry sonder om ooit sy hart en siel in sy musiek te verloor.”

Meer oor die Bottomless Coffee Band:

Bottomless Coffee Band is ’n folk-pop-duo, wat al vir sewe somers getroud is, en met meer as 12 instrumente gehore dwars oor Suid-Afrika, Namibië, Europa en die Verenigde Koninkryk vermaak met vars en opgewekte musiek en stories. Lourens en Esté het as twee ambisieuse studente in Stellenbosch ontmoet, en na ‘n draai in die korporatiewe wêreld het hulle die musiekbedryf aangepak om ander deur musiek te kan inspireer. Die Rabé’s het reeds drie albums (Room with a View (2014), Anthelia (2018), Sitkamer Sessions (2019)) bekendgestel, en het verskeie enkelsnitte op alle e-stroomplatforms beskikbaar.

Prediker is hulle eerste vollengte Afrikaanse album.

Klankdig is beskikbaar op alle digitale platforms.

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!