Die bekroonde country-sanger Daniel Wesley het pas sy toetrede tot die Afrikaanse musiekmark gemaak met ’n enkelsnit Huis is Waar die Hart is wat beloof om op die trefferparade te boer.

Daniel het reeds vir homself naam in Nashville, Texas in Amerika gemaak, en het ook dáár befaamde liriekskrywers soos die Duitser Barbo Schönberger ontmoet met wie hy nou kragte saamspan om ’n volwaardige album op te neem.

James Breedwell, ’n liedjieskrywer wat al onder andere vir die Amerikaanse Idols Jeffrey Li en Kechi Okwuchi liedjies geskryf het, het vir Daniel in Nashville hoor optree en het skoon liries oor sy stem geraak.

“My ore het behoorlik van vreugde getuit toe ek hom die eerste keer op die verhoog gesien het – ek het geweet dat ek een of ander tyd saam met hom aan ’n paar liedjies moet werk.” Dit het wel later gebeur.

Maar Daniel, wat in die Vrystaat gebore is, se hart klop pure Afrikaans en met Huis is Waar die Hart is het hy bewys dat hy ’n fyn aanvoeling vir die Afrikaanse taal en idioom het.

Huis is Waar die Hart is  is deur Darryl de lange opgeneem en vervaardig. Daniel het sy pen by die van die sanger Jakkie Louw gevoeg en die eindproduk is ’n hartstogtelike verlanglied wat spreek tot elke persoon wat in die vreemde werk en hulle geliefdes dalk net elke paar maande sien.

Dit is op ’n manier ’n ode aan alle geliefdes wat in Suid-Afrika moes agterbly.  “Die boodskap wat die liedjie moet oordra is dat verlange nie perke of grense ken nie en dat dit pad altyd huis toe lei, maak nie saak hoeveel duisende kilometers jy van jou geliefdes af is nie. Oos wes, tuis bes.”

Die gevoel word ook goed verwoord in die volgende lirieke: “… my hart is ’n kompas wat my terug sal bring na jou…”

Huis is Waar die Hart is is Daniel se derde enkelsnit. Hy het in 2018 die kontemporêre Engelse country-liedjie Rainmaker vrygestel waarvoor hy as beste manlike sanger by The South African Country Music Awards bekroon is. Twee jaar later het Rainmaker gevolg waarvoor hy ook verskeie nominasies ontvang het.

Met Huis is Waar die Hart is wyk hy nie van sy resep af nie; dit het steeds ’n moderne country klank en die lirieke dra ’n sterk boodskap van liefde en hoop oor.

Daniel is nie ‘n onbekende stem in die musiekbedryf nie. Hy was jare gelede deel van die Bloemfonteinse rockgroep K2 waar hy die kitaar gestreel het en ook soms as agtergrondsanger opgetree het.

Dit was egter eers in 2019, tydens sy jaar in Nashville, wat hy sy musiektalent tot eksieperfeksie geslyp het.

Daniel se gevoelvolle stem is ’n welkome toevoeging tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en ons hoop dat hy binnekort nog ’n paar Afrikaanse enkelsnitte gaan vrystel.

Huis is Waar die Hart is, is beskikbaar op alle digitale platform.

Leave a Reply

error: Content is protected !!